SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

02 December 2011

Werkers bly afgedank ná hul gedrag ná noodalarm

Philip de Bruin

Die summiere afdanking van 12 werkers van Pioneer Foods wat versuim het om hul werkplek onmiddellik te verlaat of by ’n versamelpunt buite die gebou te bly toe ’n noodalarm-sirene afgegaan het, is gister deur vyf appèlregters bekragtig.

Die regters het bevind dat die werkers hulle aan ernstige insubordinasie skuldig gemaak het en afgedank moet word.

Op die dag van die voorval is die noodalarm aangeskakel nadat ’n ernstige gaslek in die gebou ontdek is. Ingevolge die maatskappy se veiligheidsbeleid moet alle werkers onmiddellik die gebou verlaat en by ’n aangewese punt byeenkom en daar bly totdat die gebou beveilig is.

Een van die werkers is egter in die manstoilet gekry. Hy is aangesê om dadelik uit te gaan, maar 20 minute later was hy steeds in die toilet.

Die 11 ander werkers het ’n opdrag verontagsaam om by die versamelpunt te bly. Hulle het die gebou op eie houtjie binnegegaan om uit te teken en het huis toe gegaan.

Appèlregters M. Navsa, J. Heher, B. van Heerden, M. Wallis en X. Petse het gesê werkgewers word soms tereg gekritiseer omdat hulle nalaat om hul werkers se veiligheid te verseker.

“Wanneer hulle wel ’n poging aanwend om dit te doen (soos in hierdie geval) moet hulle daarvoor op die skouer geklop word.

“Geeneen van die werkers het ’n redelike kans om suksesvol teen hul ontslag appèl aan te teken nie.”

- Die Beeld