SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

15 December 2011

Weervooruitsigte vir boere goed

DIE weervooruitsigte vir boere lyk goed nadat droë toestande landbouers se werk net nog moeiliker gemaak het. Langtermynbeplanning is egter belangrik.

Mnr. Pietman Botha, senior landbounavorsingskundige van Graan SA, sê die optimale planttydperk vir mielies en sojabone het verstryk, maar talle boere in die Oos-Vrystaat is weens die droë toestande en laat reën nog nie klaar geplant nie. Boonop neem die gehalte van koring weens die onlangse reënval af.

Volgens Botha is slegs 60% tot 70% en sowat 50% van die boere in onderskeidelik die noordelike en suidelike gedeeltes van die Oos-Vrystaat klaar geplant. Botha sê dus sal minder mielies en sojabone en meer sonneblomme en droë bone geproduseer word.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou, het gesê goeie en welkome reën wag op die Vrystaat en Noord-Kaap. Hy sê boere moet dié gunstige toestande gebruik om voor te berei vir moontlike droë periodes in die volgende seisoene.

Van den Berg sê in die 2011-’12-somerseisoen bestaan ’n La Niña-verskynsel soos wat ook die geval was in 2010-’11. “See-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan is koeler as normaalweg en dit behoort tot in die herfs volgende jaar voort te duur.”

Van den Berg sê dus behoort die sentrale en westelike dele van die somerreënvalgebied, wat die Vrystaat en Noord-Kaap insluit, vir ’n groot deel van die res van die somerseisoen normaal tot bo-normale reënval te ervaar.

“Die oostelike somerreënvalgebiede kan egter meer neig na normaal met ’n kans vir droër toestande rondom Februarie 2012.”

Van den Berg sê hoewel die vooruitsigte positief is, moet boere kophou en op lang termyn beplan. Sterk aanduidings bestaan vir die ontwikkeling van ’n El Niño-verskynsel in die 2012-’13-somerseisoen, met warmer as normale see-oppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan. Die gevolg is gewoonlik droë toestande oor veral die sentrale en westelike somerreënvalgebiede.

Nóg ’n faktor wat ’n groot invloed op die klimaatstoestande van Suidelike Afrika het, is die stand van energievlakke vanaf die son. Dit sluit in die sonvleksiklus wat ongeveer elke 11 jaar herhaal met vyf tot ses jaar van toenemende aktiwiteit en vyf tot ses jaar van afnemende aktiwiteit. “Die grootste droogtes in die afgelope eeu het voorgekom tydens die periode van afnemende aktiwiteit... Die volgende draaipunt wanneer die gunstige venster vir droogtetoestande begin vorm, is vanaf omtrent 2013.”

Van den Berg sê boere kan dié inligting tot hul voordeel gebruik om van die gevolge van veranderende weersomstandighede te voorkom.

Weidingstoestande gaan met die verwagte reën in die komende maande verbeter, maar Van den Berg sê veeboere moet die moontlike droër toestande in komende seisoene in gedagte hou en hul veegetalle reg bestuur. •Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens lyk die kanse goed vir bo-normale reënval vanaf Januarie tot Maart oor die meeste dele van die land. Vir dieselfde tydperk word ondernormale minimum (behalwe dele van die Noord-Kaap en Wes-Kaap) en maksimum temperature vir die grootste gedeelte van die land verwag.


Kanse lyk goed vir bo-normale reënval vanaf Januarie tot Maart oor die meeste dele van die land.
Grafika verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens

- Volksblad