SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

19 December 2011

Skudding kring uit tot op Upington

UPINGTON. – ’n Aardskudding gisteraand op Augrabies het tot op Upington uitgekring waar trillings sowat 30 sekondes lank gevoel is.

Dit is die jongste en een van die grootste skuddings in ’n sogenaamde aardskuddingswerm wat sedert vroeg verlede jaar in die streek voorkom.

In Februarie het huisvensters op Upington geratel toe ’n skudding sowat 20 sekondes geduur het.

Mnr. Andrew Hockley, ’n inwoner van Augrabies wat rekord hou van die skuddings wat in die streek voorkom, sê daar was altesame drie rolle skuddings.

Die eerste was kort ná 18:00, nog twee later die aand, met die laaste een omstreeks 20:30.

Volksblad het vroeër berig minstens 46 trillings is al sedert 21 Desember in dié gebied, stroomop van die Augrabies-waterval, aangeteken.

Die Augrabies-trillings kom oënskynlik op ou breukplekke van plaatgrense voor.

Volgens die raad se webblad het die eerste skudding in die swerm in Februarie 2010 voorgekom. Die eerste keer wat inwoners een gevoel het, was op 26 Julie 2010 toe ’n skudding 3,7 op die Richterskaal gemeet het.

Die grootstes tot dusver was op 12 en 25 Januarie, wat onderskeidelik 4,2 en 4,9 gemeet het.

- Volksblad