SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 December 2011

Skudding ergste tot dusver

UPINGTON. – Die aardskudding wat Sondagaand in die Augrabies-omgewing ontstaan en tot op Upington uitgekring het, het 5 op die Richterskaal geregistreer.

Dit was die ergste skudding in die omgewing tot dusver.

Die twee grootste skuddings voor Sondagaand se gebeurtenis het onderskeidelik 4,2 en 4,9 op die Richterskaal geregis-treer.

Volgens die Raad vir Geo-wetenskappe se webwerf was die liggingskoördinate van die skudding -28.671° suid en 20.477° oos. Die diepte van die skudding is op 5km geskat.

Op ’n kaart op die raad se webwerf blyk die ontstaan van die skudding binne die Oranjerivier in die Augrabies- Nasionale Park te wees.

Die laaste skudding wat deur die Raad van Geo-wetenskappe se webwerf aangedui word vir dié omgewing, was op 14 Mei en het 3,7 geregistreer. Dit blyk ook van ’n kaart op die webwerf dat dié skudding op dieselfde ligging voorgekom het.

Geen skade is tot dusver ná die aardskudding Sondag aangemeld nie.

Volgens Amerika se Raad van Geo-wetenskappe se webwerf USGS was daar sedert Sondag soortgelyke skuddings oor die wêreld heen.

Naby die ooskus van Honshu, Japan, is Sondag om 09:09 ’n skudding van 4,9 aangeteken.

Pakistan, Panama en die sentrale Middellandse See het skuddings van 4,6 beleef.

Die grootste skudding oor die afgelope paar dae was Maandag in Sulawesi, Indonesië. Dit het 5,7 geregistreer.

In Mexiko was daar gister omstreeks 01:54 ’n skudding van 5 op die Richterskaal.

Sentraal-Kalifornië het gister ligter skuddings van 2,5 en 3,2 beleef.

Volgens die Amerikaanse webwerf was die ergste aardskudding vandeesmaand op 14 Desember in Papoea-Nieu-Guinee. Dit het 7,1 op die Richterskaal geregistreer.

- Volksblad