SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

12 December 2011

SAWDIS HOLIDAY ALERT 2011/2012

Man verdrink by strand in Oos-Londen

Oos-Londen – 'n Visserman het by die Kayser-strand in Oos-Londen verdrink na hy deur sterk seestrome meegesleur is, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Sondag gesê.

"[Die man] het volgens berigte visgevang in vlak golwe toe hy deur seestrome meegesleur is en verdrink het," het die NSRI se stasiebevelvoerder vir Oos-Londen, Geoff McGergor, gesê.

McGergor het gesê die man was reeds deur 'n lid van die publiek uit die water gehaal toe die NSRI op die toneel aankom.

Paramedici het die man op die toneel dood verklaar. Hy was in sy veertigs, en was glo van Pretoria.

McGergor het vakansiegangers op die kus gewaarsku om versigtig te wees vir die springgety met volmaan – die sterkste gety van die maand – wat nog die volgende vyf of ses dae kan duur.

- SAPA/Nuus24

Leerder spring in dam ná hy druip

Noordwes – 'n Leerder het in 'n dam in die Tontonyane-nedersetting verdrink nadat hy gr.11 gedruip het, het die polisie in die Noordwes Sondag gesê.

Die 19-jarige het Vrydag in 'n dam gespring, het konst. Duduzile Zwane gesê.

"Hy het vroeër die dag 'n brief vir sy pa gelos het 'n SMS aan 'n polisiebeampte en mede-kerklid gestuur en hulle van die selfmoord in kennis gestel."

Polisieduikers het die lyk Saterdag uit die dam gehaal. Die inhoud van die brief en SMS-boodskap is nie bekend nie.

Die jeugdige was 'n leerder aan die Ramaine Hoërskool.

- SAPA/Nuus24

Vakansiedag 1: 47 sterf op paaie


’n Padongelukondersoeker fynkam die toneel naby Harrismith in die Vrystaat waar 30 mense eergister dood is. Foto: HERMAN VERWEY


Buks Viljoen en Amanda Roestoff

Minstens 47 mense is op die eerste dag van die Desember-skoolvakansie in padongelukke dood en 55 beseer.

In die ergste botsing sedert die skole gesluit het, is 30 mense eergister omstreeks 03:00 naby Harrismith in die Vrystaat dood toe ’n oorlaaide minibus reg van voor teen ’n vragmotor gebots het.
Dié ongeluk het gebeur enkele dae ná die begin van die Kom Veilig Aan-veldtog.

Mnr. Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het die provinsiale polisiekommissaris kort ná die botsing opdrag gegee om elke taxibestuurder wat selfs net een passasier te veel in sy taxi het in hegtenis te neem
Die taxi wat in die ongeluk betrokke was, het glo 35 passasiers vervoer, 12 meer as die toegelate 23.

Sewe oorlewendes van die botsing is in die Thebe-hospitaal in Harrismith opgeneem.

Onder die oorlewendes is ’n 18 maande oue seuntjie wat verskeie beenbreuke opgedoen het.

Die taxi was glo van Rustenburg in Noordwes na Tsolo in die Oos-Kaap op pad.

Tien kinders van verskeie ouderdomme was onder die oorledenes.

’n Passasier in die vragmotor is ook dood.

Die vragmotorbestuurder, mnr. Bheki Dladla, is ook beseer, maar intussen uit die hospitaal ontslaan.

In Gauteng het nat paaie die lewe van talle motoriste geëis.

’n Vrou is eergisteraand dood en ’n man beseer toe twee voertuie naby Robert Broom-rylaan in Roodepoort aan die Wes-Rand gebots het.

Drie mense is dood toe ’n bakkie ’n U-draai op die N1-hoofweg in Johannesburg gemaak het en ’n motoris in hom vasgery het.

Nog twee mans is op slag dood toe die minibustaxi waarin hul gery het naby die Grasmere-tolplaza omgeslaan het.

Sowat 15 passasiers is toe ook beseer.

’n Passasier is op slag dood, 18 ernstig en 10 lig beseer, toe ’n vragmotor ’n U-draai op die N4-hoofweg naby die Engen-motorhawe by Belfast gemaak het en twee minibustaxi’s toe teen hom bots.

Die ongeluk het op byna dieselfde plek gebeur waar 18 mense twee weke gelede in ’n soortgelyke botsing verkool het.

In Balfour is twee mense dood toe ’n bakkie se remme onklaar geraak het en die bestuurder nie by ’n stopteken kon stilhou nie. Die bakkie en ’n ander voertuig het gebots.

Nog drie mense is op slag dood en een persoon erg beseer toe twee voertuie reg van voor naby die Goue Hoofweg-wisselaar op die N1-hoofweg gebots het.

Nog ’n botsing reg van voor tussen ’n bakkie en ’n Toyota Camry op die R57 naby Kragbron het die lewe van twee mense geëis. Drie het oorleef.

’n Man en sy agt maande oue babadogter is dood en sy vrou ernstig beseer toe hul motor ’n koei op die N3 naby die Tweedie-afrit in KwaZulu-Natal getref het. Volgens mnr. Jeff Wicks van Netcare 911 het die dier oor die enjinkap en dak van die voertuig gerol.

Die man en baba is op slag dood.

’n Man is dood in ’n botsing reg van voor met ’n vragmotor op die N1 naby Bloemfontein.

  • Luidens ’n verklaring van die departement van vervoer is 21 283 boetes sedert 28 November uitgereik en 220 motoriste in hegtenis geneem. 

- Die Beeld

Taxi’s ná slagting vasgevat

Pieter Steyn en Maryke Swart

ALLE minibus-taxi’s wat voortaan deur die Vrystaat ry, sal deur die polisie afgetrek word en die bestuurder sal in hegtenis geneem word as die taxi oorlaai is.

Só sê mnr. Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, ná die grusame botsing naby Harrismith waarin 30 mense dood is.

“Ek het gister die opdrag aan die provinsiale polisiekommissaris gegee. Al is daar net één persoon te veel in die taxi, sal die bestuurder in hegtenis geneem word.”

Chaos het gister en eergister in die Thebe-hospitaal op Harri­smith geheers toe sewe oorlewendes van die botsing in dié hospitaal behandel moes word.

Onder die oorlewendes is ’n 18 maande oue baba wat verskeie frakture opgedoen het en gister deur City Press as die “wonderwerk-baba” beskryf is.

Dié seuntjie is gister met veelvoudige frakture na die Manapo-streekhospitaal in Qwaqwa oorgeplaas. Hospitaalpersoneel is erg bekommerd oor hom. Niemand kon bevestig of sy ouers onder die oorledenes is nie.

Die ongeluk was Saterdag omstreeks 03:00 toe ’n oorlaaide minibus reg van voor teen ’n vragmotor gebots het.

Volgens sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die taxi 35 passasiers vervoer, 12 meer as die toegelate 23.

Die bestuurder het glo beheer oor die taxi verloor en om ’n draai teen die vragmotor gebots.

Die taxi was glo van Rustenburg in Noordwes na Tsolo in die Oos-Kaap onderweg.

Ses van die oorlewendes is ernstig beseer en na ander hospitale in die provinsie, onder meer die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein en die Qwaqwa-hospitaal, oorgeplaas.

Mnr. Nico van Burick van Landbouweekblad het verby die ongelukstoneel gery en gesê dit het soos ’n slagveld gelyk.

“Dooie hoenders en besittings van die insittendes het gestrooi gelê,” het Van Burick gesê.

Tien kinders van verskeie ouderdomme was onder die oorledenes. ’n Passasier van die vragmotor is ook oorlede.

Die vragmotorbestuurder, mnr. Bheki Dladla, is ook beseer, maar is intussen ontslaan.

Die ongeluk, wat deur nooddienswerkers as van die grusaamste nóg beskryf is, kom enkele dae ná die begin van die veldtog Kom Veilig Daar.

Die minister van vervoer, mnr. Sibusiso Ndebele, het in ’n verklaring sy meegevoel met die oorledenes se familie uitgespreek.

“Sedert 28 November is 21383 boetes uitgereik en 220 motoriste in hegtenis geneem vir verskeie oortredings,” lui die verklaring.

Komphela het gesê verkeersbeamptes en die polisie het opdrag gekry om bestuurders te ondervra oor hoe lank hulle aaneen ry.

“As ’n bestuurder langer as twee uur of 200km aaneen ry, sal hy gedwing word om te rus en mag hy nie verder ry nie,” het Komphela gesê.

- Volksblad