SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

11 December 2011

SAWDIS HOLIDAY ALERT 2011/2012

Jong arts help red seun uit see

Pieter Steyn

SKAARS ’n dokter en hy red ’n seun se lewe.

Dr. Ralph de Kramer (23), ’n voormalige finalis van Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat se Matrikulant van die Jaar-kompetisie wat verlede week sy mediese graad aan die UV behaal het, sy broer Len en nóg ’n Kovsie, dr. Anthony Picton, het vandeesweek ’n onbekende 17-jarige seun uit die see gered.

Volgens De Kramer het hy en sy broer Sondagmiddag by Scottburgh aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gaan branderplank ry toe hulle ’n menseredder sien hardloop.

“Ons het dadelik nader gegaan om te sien of ons kan help. Die seun was tussen rotse waar nie geswem mag word nie.”

De Kramer sê die menseredder, mnr. Johan Groenewaldt, het met die seun gespartel. Len het ingespring en hulle het hom uitgebring.

“Die seun was leweloos. Daar was geen pols nie.”

De Kramer het die seun toe begin resussiteer om hom te probeer bybring.

“Een van my voormalige dosente, dr. Picton, het vakansie gehou en ook kom help. Die seun het ná ’n ruk begin opgooi en self asemgehaal.”

De Kramer sê hy weet nie hoe lank die seun in die see was nie.

“Ek het later gehoor die seun is in die hospitaal dood.”

De Kramer, ’n kranige branderplankryer, het mense gemaan om altyd tussen die vlae wat die swemgebied aandui, te swem.

“Dis danksy die lewensredder dat ons die seun kon red.”

- Volksblad

Man vergas hom met konkoksie


Een van die plakkate waarmee die man gewaarsku het teen die gifgas. Foto: Sakkie van der Schyff

Marlene Jordaan

Parys. – ’n Man het in vreemde omstandighede selfmoord gepleeg deur ’n dodelike gaskon­koksie in sy motor te meng.

Voor dit het hy eers plakkate op die motor se ruite geplak wat nooddienswerkers waarsku dat die gas uiters gevaarlik is en dat hulle nie die deure moet oopmaak nie, het Jeffrey Wicks, Netcare-woordvoerder, gesê.

Die man se lyk is Vrydag in die vroeë oggendure in sy motor sowat 8 km buite Parys op die Fochville-pad gekry deur mense wat verbygestap het.

Die motor was toegesluit, het konst. Duduzile Zwane, polisiewoordvoerder, gesê.

Brandweermanne het gasmaskers opgesit om sy lyk uit die motor te verwyder, het Wicks gese.

Dit blyk hy het verskeie soorte nywerheidschemikalieë gemeng wat ’n uiters giftige gas, soortgelyk aan chloorgas, gemaak het.

Polisie het inwoners van hoewes naby aan die toneel hul huise laat verlaat en ook diere laat verwyder.

Desiré Forster, ’n inwoner, het gesê die man het die hele Donderdag in sy motor voor hul hoewe se hek deurgebring en in ’n stadium by die hek “rondgehang”.

“Hy het twee keer in die loop van die dag geld vir petrol kom vra.

“Ons is maar versigtig vir misdaad en my werkers het hom weggewys.

“Hulle sê hy kom van Zimbabwe.”

Teen 17:00 het die man plat in die motor gelê, het Forster gesê.

Toe sy teen 01:00 gaan slaap het, was daar ’n ambulans by die motor, want sy het die flitsende rooi ligte gesien.

Die oggend het dit gewemel van polisiemanne en nooddienswerkers en sy en haar man, Errol, moes die huis verlaat. Hul troeteldiere moes ook saam.

Zwane het gesê lede van die Vereenigingse bomopruimingseenheid is na die toneel en het die gas laat ontsnap.

Die polisie kon die man se identiteit nog nie bekend maak nie omdat sy naasbestaandes nog in kennis gestel moet word van sy dood.

Hy was tussen 25 en 30 jaar oud.

Sy het bevestig dat die motor ’n Zimbabwe-nommerplaat het.

- Die Beeld

Driejarige val na haar dood in Hillbrow

Johannesburg – 'n Driejarige meisie is op slag dood toe sy Saterdagmiddag nege vloere uit 'n gebou in Hillbrow geval het, het Johannesburgse nooddienste gesê.

Synock Matobako, 'n woordvoerder, het gesê die ma was op die toneel op die hoek van Banket- en Goldreichstraat.

Geen verdere besonderhede is tans beskikbaar nie.

"Soos die feesseisoen nader kom sien ons al hoe meer insidente waarby kinders betrokke is," het Matobako gesê.

"Ons doen 'n beroep op ouers om seker te maak hulle kinders het altyd die nodige toesig."


- SAPA/Nuus24

Huis in North Riding brand af

Johannesburg – 'n Brand het Saterdag 'n dupleks in North Riding vernietig, het Johannesburgse nooddienste gesê.

Die voorval het vroegmiddag plaasgevind, het Synock Matobako, 'n woordvoerder, gesê.

"Drie kamers [is] afgebrand en die dak het ingegee. Die eienaar sê hy het die woning verhuur en niemand was by die huis nie, so ons weet nie wat gebeur het nie," het hy gesê.

Niemand is in die brand beseer nie.

- SAPA/Nuus24