SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

21 December 2011

Oudtshoorn: Alles verloor in brand

OUDTSHOORN NUUS - ‘n Verwoestende brand wat verlede Saterdag vermoedelik deur kinders in ‘n aangrensende opslaangebou begin is het twee gesinne van Smartie Town in Oudtshoorn van hul huis, werksplek en alle besittings beroof.

‘n Ontstelde James Khumalo en sy neef, David Csibanda vertel dat al hulle buitegeboue waarin duur masjinerie en voorraad vir hul stofferingsonderneming was binne minute deur vlamme verswelg is. Die vuur het na die huis versprei en ook al hul meubels, kos en ander besittings verteer voordat hulle iets kon red.

Die vuur het skynbaar in ‘n geboutjie op ‘n buur-erf aan die agterkant van Khumalo se huis ontstaan. Hy en sy gesin, met die hulp van bure het tevergeefs probeer om die vlamme te keer en moes hulpeloos toekyk hoedat sy huis en die besigheid wat hy oor die afgelope drie jaar opgebou het, tot op die grond afbrand.

Met die brandweer se aankoms op die toneel was alles reeds in puin gelê en is daar slegs verhoed dat die brand na omliggende huise versprei. Van die werkplek en stoorkamer is net ‘n hoop puin oor en slegs die mure van die huis staan nog - die binnekant is totaal deur die brand vernietig.

- Oudtshoorn Courant