SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 December 2011

Noord-Kaap skudding was nogal erg

Niemand kan sê of daar nóg groter aardskuddings by Augrabies in die Noord-Kaap gaan wees nie nadat daar Sondagaand ’n skudding met ’n sterkte van 5 was.

Mnr. Coenie de Beer, ’n geoloog by die Raad vir Geowetenskap in Kaapstad, het gesê niemand kan ooit sê of groter skuddings gaan volg en of die skuddings nou verby is nie.

“’n Mens kan dit nie doen nie. Aardbewings se posisies kan nie voorspel word nie,” het De Beer gesê.

Sondagaand se aardskudding was om 20:07 en is op ’n diepte van 5km onder die grond gemeet, volgens inligting op die webblad van die seismologiese eenheid van die Raad vir Geowetenskap.

Mnr. Kobus van Coppenhagen, eienaar van die plaas Daberas, wat aan die suidwestelike deel van die Augrabies Nasionale Park grens, het gesê hy en sy vrou het Sondagaand buite hul huis gaan staan toe die aardskudding begin.

“’n Mens voel jy moet nie in die huis bly nie. Dit is nogal erg,” het hy gesê.

Buite kon ’n mens hoor hoe die dreuning verder weggaan “suide toe”.

Van Coppenhagen het gesê die Oranjerivier-ravyn “lyk nie soos hy lyk omdat iemand met ’n spitgraaf daar gegrawe het nie. Dit is deur groter kragte geskep”.

Sondagaand se skudding het gevoel soos ’n vibrasie en ’n mens kon hoor hoe die ruite ratel. Die aardskudding het sowat 20 sekondes geduur.

Daar was op 13 November ook ’n voorval.

Voor dit was dit maande lank stil, het hy gesê.

Volgens De Beer is aardskuddings wat van 5,5 meet meer voelbaar.

Dan kan ’n mens verwag dat goed sal omval.

“Maar dit help nie om paniekerig te raak nie. ’n Mens kan nie sê of daar wel verdere aardskuddings op ’n bepaalde plek sal wees nie,” het De Beer gesê.

Daar is oral verskuiwings in die aardkors.

Wat die Raad vir Geowetenskappe oor Augrabies se aardskuddings sê:)Die aardskuddings by Augrabies word as ’n aardskudding-swerm beskryf;)Swerms kan oor ’n kort tydperk van enkele dae, weke of maande voorkom, maar dit is seldsaam dat dit vir meer as twee jaar sal duur;)Die eerste aardskudding in die huidige swerm by Augrabies was in Februarie 2010, maar dieinwoners het eers daarvan bewus geraak toe daar op 26 Julie 2010 ’n skudding was wat 3,7 gemeet het; en)Aardskudding-swerms kom gereeld in die wêreld voor. In die suide van Kalifornië is daar in Februarie 2008 in ’n enkele maand meer as 500 skuddings gevoel.

- Die Burger