SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

09 December 2011

Nóg ’n waterkrisis dreig in Mangaung


Foto: Só word hard gewerk om die hoofwatertoevoer-pypleiding van die Welbedachtdam na Bloemfontein te herstel. Foto: Charl Devenish

’n WATERKRISIS dreig weer in Bloemfontein nadat die hoofwater-toevoerpypleiding van die Welbedachtdam gisteroggend gebars het.

Die pyp, wat gister om 04:00 op die universiteit se proefplaas langs die Reddersburg-pad ’n paar kilometer buite die stad gebars het, gaan boonop minstens 36 uur neem om te herstel.

Dit is die soveelste waterkrisis wat tam Mangaungers vanjaar in die gesig staar, terwyl die versengende hitte nou ook sy tol begin eis. ’n Dringende beroep word weer op inwoners gedoen om water te spaar deur nie tuine nat te lei, swembaddens te vul of motors te was nie.

Boonop sê mnr. Michael Nethlevhani van die Bloemfonteinse weerkantoor dat die kwik vandag tot 28 grade C gaan styg, môre tot 31 grade C en teen Sondag tot 32 grade C.

Mnr. Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die Mangaung-metro, sê ’n groot waterskaarste word ondervind weens die bars van die pyp wat water na die Brandkop-opgaardam voer.

“Die wateronderbreking mag verskillende dele van die stad raak.”

Hy het gister teen 17:00 gesê daar is nog water vir die inwoners, maar dit gaan 36 uur neem om die pyp van Donderdagoggend om 06:00 tot vandag om 18:00 te herstel. “In dié tyd sal geen vars gesuiwerde water van die Welbedachtdam die stad binnekom nie.”

Mnr. Rossouw Botes, raadslid van die DA, het gesê die party wil ook ’n beroep op inwoners doen om water te spaar.

Die versoek is om die vlak van die wateropgaardamme in Bloemfontein so hoog as moontlik te probeer hou.

Dit kan verhoed dat daar in volgende week ernstige waterprobleme ontstaan as gevolg van onttrekking van water wat nou plaasvind.

Geen vars gesuiwerde water sal in die hersteltydperk van 36 uur en selfs daarna die opgaardamme bereik nie.

Botes sê ná die afgelope week se reën, behoort die tuine nog nat te wees.

Om die waterkwessie nog verder te verswak, het ’n interne waterpyp van die Mangaung-metro by Bergman Square, wat die oostelike deel van Bloemfontein van water voorsien, ook gistermiddag laat gebars.

Dit is die derde keer die afgelope aantal dae dat die gebied se inwoners sonder drinkwater gelaat word. Inwoners van die gebiede Bloemspruit, Bergman Square, Olive Hill, Vaalbank-Suid en Riversdal sal hierdeur geraak word.

Khedama het gister gesê: “Die Mangaung-metro probeer nou ook so vinnig as moontlik om die pyp te herstel.”)Khedama sê die metro is bewus van klagtes oor die slegte reuk en smaak van drinkwater. “Die drinkwater voldoen egter aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS241), volgens mikrobiologiese toetse wat gereeld uitgevoer word.

“Daar is geen koliforme of E.coli-mikro-organismes in die water nie. Dit is veilig vir menslike gebruik.”

- Volksblad