SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

27 December 2011

Mikayla vaar ál beter nadat kobra haar pik

Eina, moet net nie aan daai handjie vat nie. Mikayla Robbertse loop self toilet toe saam met haar ouma, Charmaine, in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria.Foto: Alet Pretorius

Dit gaan baie goed met klein Mikayla Robbertse (5), wat verlede week in Lephalale (Ellisras) deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is.

Die kind is reeds oorgeplaas na ’n algemene saal in die Steve Biko- akademiese hospitaal waar sy waarskynlik vir nog ses weke tot twee maande behandel moet word.

Volgens Mikayla se ouma Charmaine beplan dokters om haar môre teater toe te neem om van die dooie weefsel van haar handjie weg te sny.

“Ons hoop nog dat dit nie nodig sal wees vir amputasies nie.”

Mikayla het ’n opwindende Kersdag gehad met talle besoekers en geskenke.

Die Colonia Christian-sentrum het die aand ’n diens by haar bedjie gehou.

Volgens mev. Robbertse praat Mikayla soms oor die voorval wat verlede Maandagaand in haar bed gebeur het.

“Sy sê die slang het haar gepik, maar haar pa het hom geslaan. ’n Slangkenner het ons gesê die skade dui daarop dat die slang haar dalk eers gewaarsku het deur haar op die elmboog te byt sonder om gif vry stel. Dit is hoekom die wond aan die elmboog minder ernstig is. Toe hy steeds bedreig voel, het die slang haar aan die vinger gebyt en gif vrygestel.”

Dit lyk of die dokters van die weefsel bo-op haar linkermiddelvinger en die bokant van haar hand sal wegsny.

Laat verlede week was dokters nog erg bekommerd oor haar toestand. Haar lyfie was goudgeel soos haar lewer gesukkel het en sy het erg opgeswel. Sy was ook ’n ruk op ’n respirator, maar teen gister was selfs die suurstofpypies na haar neusie nie meer nodig nie.

Vir die lêery in die hospitaalbed is sy egter behoorlik keelvol.

Volgens mev. Robbertse is Mikayla ’n aktiewe kind wat dol is oor haar pekineeshond, Jimmy.

Sy mis ook haar maatjies verskriklik en was glo in trane toe een van hulle haar die afgelope naweek gebel het.

Eina, moet net nie aan daai handjie vat nie. Mikayla Robbertse loop self toilet toe saam met haar ouma, Charmaine, in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria.

- Beeld