SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

02 December 2011

Meisie val in kloof


Lede van die Bergklub van Suid-Afrika en die Off-road Club Resque-klub stabiliseer die draagbaar waarop ’n 12-jarige meisie na ’n Oryx-helikopter van die lugmag opgehys word nadat sy erge beserings opgedoen het toe sy in ’n kloof tussen Roodepoort en Krugersdorp geval het.

Erika Gibson

’n 12-jarige meisie van Duduza is gisteroggend met erge gesig-, kop- en rugbeserings met ’n lugmaghelikopter uit die Kingskloof tussen Roodepoort en Krugersdorp gehys nadat sy
etlike meters ver geval het.

Lede van die Bergklub van Suid-Afrika en die Off-road ­Rescue-klub het haar te hulp gesnel, maar haar toestand was te ernstig om haar te voet met ’n draagbaar uit te dra, het mnr. Dean van der Merwe van die bergklub gisteraand gesê.

Volgens mnr. Derek Schroeder, kampbestuurder van die Rocky Valley-kampeerterrein in die gebied, het die jeuggroep eergisteraand vir ’n kamp opgedaag. Hulle het gisteroggend vroeg in die berg gaan stap toe die meisie geval het.

Volgens Schroeder het ’n pastoor en sy vrou, wat op ’n nabygeleë koppie gebid het, die ongeluk gesien. Hulle het hulle na die groep gehaas en die kampbestuur in kennis gestel.

Omdat die bergklub betrokke is by klim-aksies in die klowe, het hy die klub se kontaknommer byderhand gehad en hulle en ook die nooddienste om hulp gevra. Die klub het 17 Eskader by die Swartkop-lugmagbasis se hulp ingeroep, waarna ’n Oryx-helikopter met ’n hystoestel na die toneel is. Die meisie is teen 11:00 met die hulp van die helikopter op ’n draagbaar tot in die helikopter gehys, waarna sy na die Johannesburg Algemene Hospitaal vervoer is.

Volgens Schroeder is die snye aan haar kop en gesig met steke geheg, terwyl x-straalfoto’s van haar rug geneem is. Die uitslag van die omvang van haar rugbeserings was nog onbekend.

Volgens hom was dit die vyfde jaar dat die organiseerders van die jeuggroep kinders na die kampeerterrein bring.

Die terrein behoort aan die Presbiteriaanse Kerk.



’n Reddingswerker sak uit ’n helikopter van 17 Eskader met ’n draagbaar af om die meisie te gaan kry.

- Die Beeld