SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

02 December 2011

Koelkop-vlieënier land op R43


Verkeersbeamptes help die verkeer beheer nadat dié Cessna 210 veilig op die teerpad geland het. Foto: Denzil Maregele

Ilse Krige

VILLIERSDORP. – Goeie opleiding, baie ervaring en ’n kort gaping in die oggendverkeer op die R43 het gister die lewe van ’n vlieënier en sy drie passasiers gered.

Die vliegtuig het skielik tussen Worcester en Villiersdorp enjinprobleme ondervind, maar mnr. Markku Torppa (52) van Somerset-Wes kon hom netjies op die hoofweg neersit voordat daar groter moeilikheid was.

“Ek het 20 jaar ondervinding as vlieënier en het nog nooit voorheen enjinprobleme ondervind nie,” het hy ná sy noue ontkoming gesê.

Hy het met drie passasiers – ’n besoeker van Perth, Australië, en twee van Kaapstad – ’n sirkelroete van die Stellenbosch-vliegveld af gevlieg. Dit is ’n roete wat hy dikwels volg.

“Ek het ’n keuse gehad – óf ek wys hulle die wynlande, óf Kaappunt.

“Gelukkig was die wind te sterk in die Kaap – om enjinprobleme oor die see te kry is nie goed nie!” het Torppa gesê.

Hy het vertel hy het op ’n hoogte van 2000 voet (sowat 600m) agtergekom die enjin het nie krag nie. Daar het skielik rook uitgeborrel.

“Ek was glad nie bekommerd nie, want vlieëniers word juis opgelei om sulke situasies te hanteer. Ek het net gekonsentreer op die landing. En toe moes ek skielik onder die telefoondrade deur duik!”

Volgens Torppa het hy sy passasiers jammer gekry. “Dit was hul eerste ondervinding in ’n ligte vliegtuig, maar ek is net bly almal is ongedeerd.”

Vliegklublede van die omgewing, wat inderhaas na die toneel is, het Torppa vir sy koelkop- en korrekte hantering van die situasie geprys.

Mnr. Johan Steyn van Villiersdorp en lid van die Worcester-vliegklub, het gesê die vlieënier het alles reg gehanteer. “Ons het ’n ou gesegde: As jy kan wegloop van ’n landing, is dit ’n veilige een. En hulle kón wegstap.”

Verkeersbeamptes het gehelp om die tuig effens uit die pad te stoot en was heeldag aan diens om die verkeer in ’n enkelry te reguleer.

Die vliegtuig moes net daar op die pad gelos word, totdat ’n platbakvragmotor van Stellenbosch af kon kom om dit op te laai.

Die vlerke moes afgehaal word en nou word die tuig na ’n werkswinkel gestuur sodat bepaal kan word wat die enjinprobleme veroorsaak het.

“Uit ’n vlieënier se oogpunt is die skade aan die neuswiel en -skroef baie oppervlakkig, niks meer as ’n gewone stampie aan ’n kar nie.”

- Volksblad