SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 December 2011

Giftige slang byt kind (5)

PRETORIA. – ’n Vyfjarige meisie van Lephalale (Ellisras) kan ’n deel van haar hand verloor nadat sy in haar bed deur ’n Mosambiekse spoegkobra gebyt is.

Mikayla Robbertse was gistermiddag nog in die Netcare-Mon­tana-hospitaal se waakeenheid en haar toestand is glo bestendig.

“Ons het pas ingekruip toe ons ’n vreeslike gil hoor,” het mev. Charmaine Robbertse, haar ouma, gister oor die voorval Maandagaand vertel.

“Haar pa, Bertus, was eerste by haar en het die slang gesien. Dit het haar op die handjie en elmboog gebyt.

“Ek en haar oupa (ook Bertus) het dadelik met haar na die Lephalale-staatshospitaal gejaag, terwyl my seun die slang gaan soek het.

“Ons was so benoud in die motor, want sy het in ’n stadium in skok gegaan en haar lyfie het begin ruk.

“Ons het besef hy moet uitvind watter soort slang dit was sodat die regte teengif gegee kon word.”

’n Buurman het gehelp om die slang uit te ken en Mikayla het die teengif gekry.

“Die diens in Lephalale was puik. Sy was binne minute op suurstof met ’n drup en die dokter was binne vier minute daar.”

Die kind is die volgende dag na ’n private kliniek en daarna na Mon­tana oorgeplaas.

Mikayla was baie siek en haar niere het glo in ’n stadium byna ingegee.

Die familie behoort egter nie tot ’n siekefonds nie en het gister gehoor sy sou na die Steve Biko- Akademiese Hospitaal oorgeplaas word. Dit sou die Robbertse meer as R40000 kos om haar in Montana te hou.

“Sy is nou buite gevaar en die dokters sê Steve Biko kan haar ook die nodige sorg gee.”

Mikayla kla glo nie oor pyn nie, maar wil huis toe gaan.

“Sy sê haar pa is haar held, want hy het die slang doodgemaak.”

Volgens Robbertse kan van die weefsel in haar handjie doodgaan. Dit kan beteken dat sy ’n deel van haar hand kan verloor en operasies gaan nodig hê.

Die Robbertse sê op die plaas is hulle gewoond daaraan om saans alles uit te skud vir slange en skerpioene.

“Ons is net so bly sy leef. Oor haar handjie sal ons ons later bekommer. Sy is ’n sterk kind wat nie maklik opgee nie.”

- Volksblad