SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

01 December 2011

Ballotsbaai wil hengelaar nie teruggee


Foto: Isak van der Vindt (39), wat al meer as drie weke weg is ná hy by Ballotsbaai in die see beland het.

GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Het julle hom gekry? Dit was die eerste woorde van ‘n baie hartseer Synthia van der Vindt, vrou van die hengelaar, Isak van der Vindt, wat al meer as drie weke weg is.

Van der Vindt is op 8 November saam met twee mede-hengelaars deur vermoedelik ‘n fratsgolf by Ballotsbaai van die rotse geslaan. Die ander twee mans kon na veiligheid swem, maar Van der Vindt is steeds vermis.

Verskeie hengelaars het al in die Ballotsbaai-omgewing in die see verdwyn. "Ballotsbaai se water gee nie terug nie," het een hengelaar aan die George Herald gesê.

Die George Herald het die Van der Vindt’s se woning in Daisyweg, Groot Brakrivier, besoek. Dit was asof Isak se vrou, sy pa, Matthew van der Vindt, en vier klein kindertjies, Lenthia (12), Deseré (10), Lousine (5) en Sarifa (4), wanhopig voor hulle gesit en uitstaar het - met bietjie hoop oor vir goeie nuus.

Synthia het vertel dat haar man gewoonlik by Groot-Brakrivier gaan hengel en volgens haar is dit die eerste keer dat hy by Ballotsbaai gaan hengel het om kos op die tafel te sit.

Sy vertel dit was skuins na 10:00 die Dinsdagaand toe Isak se broer, Cyril, met die slegte tyding by haar huis aangeklop het. "Isak het verdrink. Ons kon net sy visstok en baadjie vind," het hy aan haar gesê.

"Isak was die gesin se broodwinner. Ek weet nie of ek moet hoop hy lewe nog nie," het ‘n baie hartseer Synthia gesê.

ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS