SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

16 November 2011

Vlieënier breindood verklaar


DIE Bloemfonteinse vlieënier wat in ’n alleenvlug van Johannesburg na Bloemfontein aan die linkerkant van sy liggaam verlam geraak en ondanks sy ernstige toestand ’n merkwaardige landing uitgevoer het, is gister breindood verklaar.

Me. Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal, sê mnr. Danie Minny (43) is gister omstreeks 10:00 breindood verklaar.

Minny het Sondag op ’n vlug van Johannesburg na Bloemfontein verlam geraak, toe hy breinbloeding opgedoen het. Hy het egter steeds daarin geslaag om ’n perfekte landing met die straalvliegtuig uit te voer.

Hy was na die Randse lughawe onderweg om mnr. Marius Eksteen, bekende Bloemfonteinse sakeman, te gaan haal, toe hy sleg begin voel het. Hy het omgedraai en na Bloemfontein teruggevlieg

Minny het, nadat hy in Bloemfontein geland het, vir Eksteen gebel om te sê hy voel verskriklik sleg en dat hy geen gevoel in sy linkerkant het nie.

Eksteen het ’n motor gehuur en na Bloemfontein gery.

Volgens Cronjé het Minny ’n aneurisme gehad. ’n Aneurisme is ’n swak plek in die muur van ’n bloedvat wat veroorsaak dat die bloedvat bars.

Mnr. Jannie Minny het nadat sy broer breindood verklaar is, gesê dit is ’n baie moeilike tyd vir hul familie.

Hy het later op www.avcom.co.za almal vir hul gebede bedank.

“Danie is my broer en ons is geheg aan mekaar; geen pen of papier kan hoe ons oor mekaar voel, regverdig nie.”

Eksteen, wat Minny vir 18 jaar ken, sê hy is nie net nie ’n uitstekende vlieënier nie, maar ’n uitsonderlike mens.

Mnr. Joggie Prinsloo, bekende vlieënier van Bethlehem, het Minny as een van die mees ervare vlieëniers in Suid-Afrika beskryf.

Prinsloo ken Minnie vandat hy sewe jaar oud is. “Hy is soos een van my kinders. Hy is ’n aangename en ’n baie toegewyde mens.”

Prinsloo sê hy het vir Minnie as vlieënier opgelei, maar later jare het Minnie vir hom ’n leermeester geword.

- Volksblad