SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 November 2011

‘Vlieënde voorwerp’ stort in Bloemfontein neer


Noodlanding? Die wrak van die geel girokopter nadat dit teen ’n motorhuis in Langenhovenpark, Bloemfontein, vasgevlieg het. Foto: CADEN STEVENSON

André Damons

DAAR was ’n harde slag en toe is dit net blare wat waai.

Só het mnr. Lappies Botha gesê nadat ’n girokopter in sy motorhuis in Langenhovenpark, Bloemfontein, vasgevlieg het.

Volgens hom is mnr. Keith McCloud (56) gelukkig om slegs met skok en ’n seer rug weg te stap nadat hy (McCloud) met sy geel girokopter teen Botha se motorhuis in Sangirostraat vasgevlieg het.

Botha het McCloud suikerwater gegee voordat sy seun en vriendin hom kom haal het.

McCloud het omstreeks 15:30 ’n noodlanding in Botha se erf probeer uitvoer, maar het die motorhuis getref.

“Ek het krieket gekyk toe ek net ’n harde slag hoor. Ek het gehoor die vliegtuig vlieg laag. Hy (McCloud) het gesê sy vliegtuig het krag verloor nadat hy opgestyg het. Toe hy die oop stukke in my erf sien, het hy ’n noodlanding probeer maak.”

Volgens Botha het McCloud by die Tempe-lughawe opgestyg en was op pad na Aliwal-Noord toe sy vliegtuig krag begin verloor het.

Hoewel die dak van die motorhuis beskadig is en die teëls ingeval het, is Botha se motor, wat ’n paar treë verder gestaan het, nie beskadig nie.

Die girokopter se neus is beskadig en sy stert en rotorlemme is gebuig.

Volgens Caden Stevenson (14), wat skuins oorkant die pad bly, het hy gehoor hoe die girokopter laag in Langenhovenpark vlieg.

“Hy was baie laag en ek het eers gedink hy gaan ons huis tref. Ek het ’n harde slag gehoor en uitgehardloop, maar niemand het geweet waar hy geval het nie.”

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek die voorval.

- Volksblad