SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

10 November 2011

Reuse-veldbrand eis man, 100de stuks vee

Minstens een man is dood en duisende stuks vee het omgekom in ’n vlammehel wat nog gister in die Colesberg-distrik gewoed het. Hier probeer ’n plaaswerker vlamme in die veld doodslaan. Foto: Theo Jeptha

Vicus Bürger

COLESBERG. – ’n Man is dood en honderde stuks vee het omgekom in ’n vlammehel wat gister nog hier gewoed het.

“Dis ’n ramp,” sê mnr. Cronjé Ferreira, besturende direkteur van die abattoir Meatlands wat beseer is in een van die verskeie brande wat hier gewoed het.

Tussen 60000 ha en 70000ha weiding is reeds vernietig in moontlik die grootste veldbrand wat die Colesberg-distrik nog gesien het. Die brand het reeds Dinsdagoggend begin.

Boere sê die grootste verlies is die dood van mnr. Isak Hugo (23), ’n werker van die plaas Kaya Lami. Me. Lulu Mxekezo, woordvoerder van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, sê hy het brandwonde oor 90% van sy lyf opgedoen.

Mnr. Anthony Murray, voorsitter van die brandkomitee van die Colesberg-boereunie, het gister gesê boere het lank brand geslaan en moet nog vasstel hoeveel van hul vee in die brande gevrek het.

“Groot verliese word verwag.”

Murray, van die plaas Slingersfontein, sê sowat 30 van sy skape het doodgebrand. Tientalle ander skape het ook sleg gebrand en kan binne enkele dae vrek. Nagenoeg 3500ha grond is vernietig.

Die brand het aan die oostelike kant van Colesberg teen die treinspoor begin. Mnr. Clem Olivier, voorsitter van die boereunie, sê ’n trein het vermoedelik ’n vonk laat opspring wat die veld aan die brand gesteek het. Veld in die rigting van Venterstad het ook gebrand. Olivier sê die wind het Dinsdag tot 43km per uur gewaai en gister tot 32km per uur.

Mnr. Boytjie Hugo (nie familie van die oorledene nie) van die plaas Kaya Lami sê hy en ander boere het Dinsdag met hul bakkies van ’n wegholveldbrand gevlug. Drie van sy werkers, Isak inkluis, het van een bakkie gespring en in die vlamme beland.

Al drie is na die Manne Dipico-hospitaal op die dorp gebring. Mxekezo sê Isak is Dinsdagaand omstreeks 22:00 dood.

Een van die anders werkers het minder ernstige brandwonde opgedoen en is intussen ontslaan. Die ander, wat nie sy naam genoem wil hê nie, word steeds in die hospitaal behandel.

“Dis ’n enorme skok,” sê die boer.

- Volksblad