SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

01 November 2011

Reën kom dalk eers later

MIN reën het gedurende die lente en vroegsomer in die Noord-Kaap geval, maar die weidingstoestande is goed vanweë verlede jaar se goeie reënval.

Só sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou.

“Weidingstoestande sal teen die einde van die jaar verswak.”

Volgens hom is daar nog voldoende water in die Noord-Kaap vir besproeiing.

Weens min reën in die Vrystaat is koringboere hier in die moeilikheid en die tyd om mielies te plant word ook min.

Dit is ondanks plekke in die provinsie wat die naweek goeie reën gekry het.

Daar is goeie nuus op lang termyn wat reënval betref, maar tot omtrent Kersfees gaan dit waarskynlik nog droog in die Vrystaat wees.

“Koringboere het ’n redelike probleem,” sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou.

“As dit Oktober droog is, is die oes gewoonlik ondergemiddeld.”

Mnr. Aslam Sardiwalla, metereo­loog in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê van November tot Januarie sal reënval in die Vrystaat na verwagting ondergemiddeld wees.

Volgens Sardiwalla is die gemiddelde reënval in Bloemfontein, die hart van die provinsie, in November 77mm, Desember 64mm en Januarie 88mm.

Hy voorspel reënval sal van Januarie begin optel en tot Maart bogemiddeld wees. Die gemiddelde reënval in Bloemfontein in Februarie is 81mm en Maart sowat 83mm.

Van den Berg sê hy vermoed mense kan reënval reeds in Desember verwag wanneer sommige boere koring moet stroop. Dit is nie goeie nuus nie, want dit kan die gehalte van die oes verder verswak. “Ryp koring is sensitief vir skade as dit reën.”

Die plant van somergraan soos mielies en sonneblomme moet in die Oos-Vrystaat voor omtrent 20 November afgehandel wees, sê Van den Berg.

Volgens hom het boere in die westelike produksiegebiede meer tyd – tot die tweede helfte van Desember.

Van den Berg sê in die Vrystaat is nog droë gebiede. Hier is reën nodig voordat onder meer mielies geplant kan word.

Mnr. Chris Boshoff van die plaas Kransfontein in die distrik Reitz sê hulle bid “kwaai” vir reën om mielies te kan plant. Volgens hom het dit nog nie genoeg gereën nie.

Nie alles lyk darem sleg nie.

Van den Berg sê vanweë die warm en droë toestande sal lusern van ’n hoë gehalte geproduseer word. Volgens hom het lusernboere verlede jaar swaargekry, want hulle kon die lusern nie droog kry nie. “Dit het natgereën en verrot.”

Dit het die naweek op sommige plekke lekker gereën.

Sardiwalla sê tussen Sondag 08:00 en gisteroggend dieselfde tyd is 36mm op Frankfort en 18mm op Wepener gemeet.

Geen reën word vir vandag, môre en Donderdag voorspel nie. Vrydag bestaan ’n 30%-kans vir buie en donderbuie in die oostelike helfte van die Vrystaat.

Saterdag is ’n 30%-kans vir buie en donderbuie in die noordoostelike gedeelte van die Vrystaat. Geen reën word Sondag verwag nie.


- Volksblad