SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

24 November 2011

Rampe ‘te veel vir Suid Afrika’

Hilda Fourie

PRETORIA. – Suid-Afrika het nie genoeg hulpbronne om die rampe wat die land tref, te hanteer nie.

Daar was vroeër ’n neiging dat rampe net drie provinsies in die land getref het, maar dit is nie meer die geval nie, het mnr. Mbuso Mthembu van die Suid-Afrikaanse Rooikruis-vereniging (SARKV) eergister in ’n gesprek oor klimaatsverandering in Pretoria gesê.

Volgens hom is Mpumalanga die provinsie wat die kleinste kans staan om onder ’n ramp deur te loop.

“Vanjaar het ons nog net op een ramp ná die ander gereageer.

“Daar is vloede en tornado’s. Ons het nie genoeg hulpbronne om by alles uit te kom nie.”

Volgens Mthembu is 339 huise in Komatipoort die naweek in ’n tornado verwoes. Daarby het ’n tornado verlede maand 558 huise in Duduza aan die Oos-Rand beskadig of vernietig.

Hy het gesê dit is weens die verandering in weerpatrone dat die een ramp ná die ander dele van Suid-Afrika tref.

“As dié neiging voortduur, wat gaan ons doen? Ons het nie die kapasiteit om die situasie te hanteer nie.”

Verteenwoordigers van die SARKV, die Internasionale Rooikruis-federasie (IRKF) en die Internasionale Organisasie vir Migrasie was dit eens dat samewerking tussen die regering, die burgerlike organisasies en gemeenskappe een ding is wat kortkom.

“Die regering wil nie die verantwoordelikheid neem om die leiding rakende rampbestuur te neem nie,” het Mthembu gesê.

“In die meeste lande is die kantoor vir rampbestuur in die president se kantoor sodat besluite vinnig geneem kan word. In Suid-Afrika is die kantore vir rampbestuur oral in departemente versprei en die een weet nie wat die ander doen nie.

“Die regering moet die rigting aanwys. Hulle moet sê: ‘Dit is hoe ons gaan optree wanneer ’n ramp ons tref.’

“Daarby moet inligting vir gemeenskappe gegee word rakende die risiko’s vir rampe wat hulle loop. Hulle moet die risiko’s verstaan en die gemeenskappe moet gelei word sodat hulle weet wat om te doen as hulle deur ’n ramp getref word.”

Me. Mirkka Henttonen van die IRKF het gesê soos wat die weer verander, kan Suid-Afrikaners, asook inwoners van die res van Afrika, meer uiterste weerstoestande verwag. Net in die laaste 20 jaar het die aantal weerverwante rampe verdubbel, het sy gesê.

“In Suid-Afrika word die weer warmer, daar is ’n toename in die intensiteit van die reën en ’n afname in die aantal reëndae.

“Hoe meer dit reën, hoe meer rampe gaan ons tref.”

- Volksblad

SAWDIS - Die SAWDIS het reeds die onderwerp talle kere in die verlede aangeroer en gewys op die tekortkominge. Die SAWDIS het juis tot stand gekom om die publiek in te lig oor uiterste weers toestand en rampe, aangesien daar op daardie stadium (2008) nie sodanige inligtingsdiens in Suid Afrika bestaan het nie. In soverre dit rampbestuur aan betref neem dit te lank om die publiek in te lig oor uiterste weerstoestande en moet die aanvanklike waarskuwing deur te veel kanale gaan voordat dit by die publiek uitkom indien ooit. 'n Verdere onaanvaarbare toedrag van sake is die feit dat die publiek geen toegang het tot gratis weer radar beelde nie. Dit laat die publiek kwesbaar aangesien die eerste linie van verdediging lamgelê word deur die gebrek aan gratis weer radar beelde. 'n Verdere bekommernis is die feit dat die huidige storm beelde van die SA Weerdiens onakuraat is en het die storm baie kere reeds 'n area getref terwyl die beelde toon dat die storm nog in aantog is. Dieselfde met die globale SA radar beelde wat ongelukkig van geen nut is nie. 'n Verder aspek wat kommer wek is die feit dat die publiek ook nie toegang het tot aardbewing inligting in Suid Afrika nie. Weereens moet die publiek betaal vir aardbewing inligting. Die feit dat die publiek moet betaal vir sodanige dienste is onaanvaarbaar terwyl in die meeste ander wêreld dele is sodanig inligting gratis beskibaar vir die publiek.

Die SAWDIS stem saam met Me. Mirkka Henttonen dat inligting vir gemeenskappe gegee word rakende die risiko’s vir rampe wat hulle loop. Hulle moet die risiko’s verstaan en die gemeenskappe moet gelei word sodat hulle weet wat om te doen as hulle deur ’n ramp getref word.

Ongelukkig betaan daar ook 'n mite dat Suid Afrika nie blootgestel word aan grootskaalse rampe nie. Dit is ver van die waarheid verwyder en moet sodaniges gerus terugkyk en leer uit die velede.

Die SAWDIS is van oordeel dat indien 'n grootskaalse ramp Suid Afrika sou tref talle lewens gespaar sal word indien die publiek gratis toegang het to weer en ramp inligting. Huidiglik bepaal die grote van jou beursie en dienstelewering van rampbestuur of jy gaan leef of sterf en of jy die nodige inligting betyds gaan ontvang. In baie areas bestaan rampbestuur in naam en beskik die publiek oor geen manier om inligting self te bekom nie. Gewoonlik is dit ook die armstes van die armes wat die swaaste getref word.

Die SAWDIS verstaan nie die logika om te betaal vir weer, aardbewing en ramp inligting nie. Het ons werklik so geldgierig in die land geword dat ons vir weer, aardbewing en ramp inligting moet betaal om te bly lewe?

Johan Terblanche
SAWDIS
Mosselbaai
24 November 2011