SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

30 November 2011

Man dood toe mortierbom in sy hande ontplof

Johannesburg – ‘n Man van Musina in Limpopo is dood toe ‘n mortierbom wat hy in die veld opgetel het, in sy hande ontplof.

Twee mans het die toestel in ‘n veldjie sien lê en gedink dit is ‘n stuk skrootmetaal, het luitenant-kolonel Ronel Otto gesê.

“Een van die mans het daarmee gepeuter en dit het in sy hande ontplof.

“Hy is op die toneel oorlede,” het sy gesê.

Die tweede man het geen beserings opgedoen nie.

Volgens Otto het twee ander mans vroeër die dag ‘n aantal mortierbomme aan ‘n skrootwerf in Musina probeer verkoop.

“’n Werker by die skrootwerf het egter besef dat dit gevaarlike ploftoestelle is en hulle het geweier om die te koop,” het Otto gesê.

Dié twee mans het waarskynlik die mortierbomme in die veld weggegooi waarna die slagoffer dit opgetel het.

Die polisie ondersoek tans waar die bomme oorspronklik vandaan gekom het.


- SAPA/News24