SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

11 November 2011

Lugbesoedeling in Danabaai gemonitor


Raadslid Flip du Plessis (links) van die Mosselbaai Munisipaliteit, staan hier by Johann Schoeman (middel), Bestuurder: Lugkwaliteit van die Eden Distriksmunisipaliteit en Shaun le Roux (regs) van die Departement Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning by die nuwe Danabaai Lugbesoedelingsmoniteringstasie.

MOSSELBAAI NUUS - Die inwoners van Danabaai kla al geruime tyd oor die teenwoordigheid van gasreuke en verskeie vorme van chemiese reuke in hulle omgewing. Onder leiding van die Eden Distriksmunisipaliteit is daar `n lugbesoedelingstaakspan op die been gebring wat heelwat rolspelers betrek het om die probleem aan te spreek.

Die rolspelers het onder andere die Mosselbaai Munisipaliteit, Danabaai Inwonersvereniging, Danabaai Bewarea en die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning ingesluit. Daar is `n aksieplan opgestel met verskeie stappe om die probleem sinvol aan te spreek. Een van die aksies was die oprigting van `n permanente lugbesoedelingsmoniteringstasie in Danabaai.

Hierdie moniteringstasie sal permanent in Danabaai gevestig word op die perseel van die water reservoir.

Dit is `n geskikte ligging om die moontlike konsentrasie van vlugtige organiese komponente en waterstofsulfaat deurlopend (elke 10 sekondes, 24 uur van die dag, 365 dae per jaar) te meet. Daar gaan ook `n weerstasie opgerig word om die weerstoestande te bepaal om moontlike besoedeling na die bron van die besoedeling te herlei.

Die oprigting van hierdie stasie is `n positiewe stap in die hantering van die probleem.

Die moniteringstasie word deur die Departement Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning bestuur met die uitslae wat daagliks aan die owerhede beskikbaar gestel sal word.

- Mossel Bay Advertiser