SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

25 November 2011

Goeie reën verwag van Januarie tot Maart

Seugnet Esterhuyse

PRETORIA. – Die eerste tekens van die La Ni ña-weerverskynsel is reeds deur die die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) bespeur.

Mnr. Jan Vermeulen, ’n senior weervoorspeller van die SAWD, sê dié verskynsel kan waarskynlik van Desember af bo-normale reënval bring.

Waar El Niño droogte bring, bring sy kleinsus, La Niña, nat weer. ’n La Niña-verskynsel is dus net die teenoorgestelde van ’n El Niño. Seetemperature neem dan af.

“Dit gaan dus ’n goeie reënvalseisoen wees,” het Vermeulen gesê. Volgens hom sal dié verskynsel na verwagting veral van Januarie tot Maart versterk word, wat op meer reën kan dui vir Gauteng, Noordwes, Limpopo, die Vrystaat, Oos- en Noord-Kaap.

Vermeulen het gesê ná ’n droë tydjie in die eerste tien dae van November het dit die afgelope naweek baie goed gereën.

Hy het gesê dinge lyk nou beter ná die naweek se reën.

Volgens hom het dit van Saterdag tot eergister 44 mm in Moreletapark in die ooste van Pretoria gereën. “Dit was eintlik vanjaar ’n nat Oktober, omdat dit meer as 80 mm gereën het.”

Vermeulen het gesê Pretoria se gemiddelde reënval vir Oktober, oftewel die eerste reënvalmaand van die reënseisoen, is 69 mm.

“Verlede jaar se reënseisoen, wat van Julie tot Junie vanjaar strek, was beslis droër.”

“Reënval word die hele jaar gemeet, maar Pretoria se reënseisoen is van Oktober tot Maart. Vanjaar het dit tot April nog gereën.”

- Volksblad