SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

24 November 2011

Fiets, honde, blomme deur water gegryp


Die padoppervlak op die hoek van Lenchenlaan en Westweg in Centurion is beskadig nadat massas water weens eergisternag se storm in die stormwaterstelsel afgekom het, die inspeksiedeksel opgelig en die pad daarbo oopgebreek het. Foto: Theana Breugem

Hilda Fourie

’n Fratsvloed het ná eergisteraand se reënstorm in Centurion talle mure in twee veiligheidskomplekse meegesleur.

Talle inwoners van die Centurion Hills- en Manor House-kompleks het gister huise en erwe skoongemaak en bakstene van mure weggedra.

Verskeie Beeld-lesers wat onder meer in Lyttelton en in Swawelpoort, in die ooste van Pretoria, woon, het ook gekla oor reënskade.

“Ek het heuphoogte in die water gestaan. Ek het my voëltjie, my twee Bybels en handsak gegryp en vir my man gesê ons moet straat toe gaan,” het mev. Judy Lombard, wat in Centurion Hills woon, gesê.

“My ma het die motorhuisdeur oopgemaak, waarna die water uitgeloop en gesak het. Dit was skrikwekkend.”

’n Reënstorm het eergister laatmiddag oor Pretoria en Centurion uitgesak.

Volgens inwoners het die watermassa omstreeks 20:00 deur die Centurion Hills- en Manor House-kompleks gestroom.

Dit het in ’n erf in die Henlopark-kompleks in Wrenlaan, aan die bokant van Manor House, begin. Dit het vier eenhede in Manor House se mure meegesleur. ’n Houthuis het in die bure se erf beland en nog een in ’n boom.

Die water is toe deur vier eenhede van die Centurion Hills-kompleks direk langs Manor House.

Mev. Maria Nel, wat by haar dogter in Centurion Hills kuier, het gesê die water was so sterk dat dit haar skoonseun, mnr. Nardus van der Walt, teruggestoot het.

“Die water het gelyk soos wanneer die brandweer met hul water spuit,” het Nel gesê.

“In ’n stadium het ek ’n tafel by my kamervenster verby sien kom.”

Die krag het ook afgegaan nadat water deur ’n kragprop in die binnehof gestroom het. Alles was pikdonker.

Volgens Lombard is die buurvrou se drie hondjies ook deur die water meegesleur, maar hulle het dit oorleef.

“ ’n Fiets en mense se blomme het in die water verby my gekom. Alles lê die wêreld vol.”

- Die Beeld



’n Houthuis en talle mure is eergisteraand in die Manor House- en Centurion Hills-veiligheidskompleks in Centurion deur ’n fratsvloed meegesleur.
Foto: Craig Nieuwenhuizen