SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

16 November 2011

Brande: Lugmag se hulp ingeroep


In digte rooknewels het twee Oryx-helikopters gistermiddag duisende liters water op die brandende veld buite Barkly-Wes gestort. Foto: Emile Hendricks

BARKLY-WES. – Twee Oryx-helikopters van die Lugmag is gistermiddag ingespan om reuse-veldbrande te blus, wat sedert Vrydag verwoesting op die vlakte onder die Ghaapse plato saai.

Meer as 50000ha se weiveld is vernietig, ondanks verbete pogings van boere en plaaswerkers om die voortstuwende vlamme te blus.

Talle plase wat November verlede jaar in die slag gebly het, het dit weer ontgeld.

In ’n stadium het die brand die woonbuurte by Windsorton en Barkly-Wes bedreig.

Ná vier dae se brandslaan en natspuit het twee helikopers van die Lugmagbasis Bloemspruit, Bloemfontein, gistermiddag opgedaag om brandende gras, vaalbos en doringbome buite Barkly-Wes met water uit die Vaalrivier in 2000liter houers te blus.

Mnr. Kobus Gous, voorsitter van die Koopmansfontein-brandbeskermingsvereniging, sê weerlig het die veld Vrydagmiddag op Bucklands sowat 10km noordwes van Barkly-Wes aan die brand gesteek.

Verlede jaar in November is groot skade aangerig toe die veld ongeveer 2km noordwaarts in Delportshoop se rigting aan die brand geraak het.

“Die terrein is moeilik begaanbaar vir voertuie, maar boere van die omgewing het dadelik ingespring. Die vuur is later die aand geblus.

“Saterdag omstreeks 11:00 het sterk westewinde die vuur laat opvlam.

“Ons het tot laataand met die toerusting tot ons beskikking geveg. Voorbrande is gemaak. Die vuur is die nag onder beheer gebring.”

Gous sê die wind het deur die nag gewaai en Sondagoggend vroeg van rigting verander sodat die vuur vanuit ’n nuwe front toegeslaan het.

“Later die oggend het die vuur van Riverton na Windsorton koers gekies. Ons moes behoorlik bontstaan.

“Rampbestuur het ingegryp. Pogings is aangewend om die hulp van helikopters te kry, want groot gedeeltes van die veld is onbegaanbaar vir voertuie.

“Die vuur het alles in sy pad verswelg.

“Die boere se stryd teen die vlamme het darem gehelp dat geen plaashuise beskadig is nie. Min diere het in die slag gebly.

“Maandagoggend was die vuur op pad na Winsorton. Hernude pogings is aangewend om te keer dat die vuur tot op die dorp versprei.

“’n Digte rookwolk het oor die woonbuurt gehang. Die vuur se voorpunt was slegs 2km weg. Sterk winde het die vlamme aangehits.”

Gistermiddag het die moeë brandslaners dankbaar gekyk hoe die helikopters die brand met die hulp van ’n vastevlerkvliegtuig se “valk-oë” buite Barkly-Wes blus.

Teen laatmiddag was die helikopters nog druk besig met hul taak.

- Volksblad