SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

11 November 2011

Boere help mekaar ná verwoestende brand


Vicus Burger

HULP stroom in vir boere van die Colesberg-distrik wat vandeesweek onder verwoestende veldbrande deurgeloop het.

Volgens voorlopige opnames is sowat 1000 skape en enkele beeste dood. Dit kan meer wees, want heelwat boere kry nou eers kans om opnames te doen. Nagenoeg 70000ha het in die slag gebly, sê mnr. Clem Olivier, voorsitter van die Colesberg-boereunie.

Minstens een man is dood nadat hy ernstig in die brande beseer is.

Weiding is bitter min weens die verwoestende brande, maar die boere staan nou saam en help mekaar.

Mnr. Anthony Murray, voorsitter van die brandkomitee van die boere-unie, sê hulle kry voer van boere van omliggende dele. Volgens hom het Agri Oos-Kaap ook gereël vir voer.

Die boere van Colesberg staan mekaar ook by.

“Die hulp is ongelooflik.”

Die aanvanklike brand het Dinsdagoggend aan die oostelike kant van Colesberg teen die treinspoor begin. ’n Trein het vermoedelik ’n vonk laat opspring wat die veld aan die brand gesteek het.

Olivier het gistermiddag gesê afgesien van ’n klein stukkie veld wat vroeg die oggend gebrand het, het geen brande gister weer opgevlam nie.

Volgens hom het tussen 80% en 90% van vier plase in die distrik afgebrand. Meer as 30 plase het skade gely weens die brande.

Murray sê die boere het die laaste paar dae min of glad nie geslaap nie. “Die ouens is moeg.”

Hy en Olivier het die boere bedank wat al die pad van Philippolis, Springfontein, Bethulie, Gariepdam, Venterstad, Aliwal-Noord, Steynsburg, Middelburg en Noupoort gekom het om die brande te help blus.
***Mnr. Isak Hugo (23), ’n werker van die plaas Kaya Lami, is dood nadat hy brandwonde oor 90% van sy lyf opgedoen het. Tot dusver bekend is hy die enigste mens wat weens vandeesweek se veldbrande in die Colesberg-distrik dood is. Ander is in die brande beseer.
***Enigiemand wat voer aan die boere wil skenk, kan met Olivier kontak maak deur ’n epos na clem@mweb.co.za te stuur.

- Volksblad