SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

07 October 2011

Polisie waarsku teen vals noodoproepe

GEORGE NUUS - Die George-polisie het ‘n ernstige waarskuwing uitgereik ná ‘n vals noodoproep vanoggend na hul beheerkamer gemaak is.

Iemand het vanoggend omstreeks 07:00 ‘n oproep na die beheerkamer gemaak en beweer dat daar 'n baie ernstige ongeluk op die lughawepad plaasgevind het.
Die persoon wat geskakel het, het beweer verskeie voertuie is in die ongeluk betrokke en mense is in van die voertuie vasgekeer.

Die polisie, brandweer, verkeersdienste en ambulansdienste het dadelik op die oproep gereageer en na die beweerde ongelukstoneel gehaas.
Met hul aankoms op die 'toneel' was daar egter geen ongeluk nie.

Kaptein Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, het kort ná die vals oproep gewaarsku dat sulke optredes ‘n risiko veroorsaak vir ander padgebruikers: "Om soveel polisie-, verkeers- en nooddiensvoertuie en personeel na ‘n foptoneel uit te stuur op grond van ‘n vals oproep, verskaf nie net soveel risiko’s op die pad en ongerief nie, maar stel ook alle padgebruikers se lewe in gevaar.

Hy het ‘n ernstige beroep op die publiek gedoen om nié die nooddienste doelloos en onnodig na foptonele toe uit te roep nie.

"Dit is moedswillig en ontneem ander die reg om die dienste tot hul hulp, veral in noodgevalle, aan te wend," het Pojie bygevoeg.

ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS

- George Herald