SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

29 October 2011

Droogtehulp kom dalk gou

KIMBERLEY. – Meer as sewe jaar nadat 101 kleinboere in die Colesberg-omgewing aansoek om droogtehulp gedoen het, skyn ’n flou liggie uiteindelik in die skemerte van administratiewe rompslomp.

Die Noord-Kaapse hooggeregshof het gister beveel die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap, die ramphulpfondsraad en die minister van maatskaplike ontwikkeling (die verweerders) moet binne 60 dae besluit of die aansoeke goedgekeur word.

Indien die verweerders sou besluit van die aansoekers is nie geregtig op droogtehulp nie, moet hulle die redes binne 30 dae ná die besluit aan die aansoekers se regsverteenwoordigers stuur.

Die ramphulpfondsraad en die minister moet die koste van die hooggeregshofaansoek betaal.

Luidens die hofstukke het mev. Emely Windvoël en 100 mede-kleinboere aansoek om droogtehulp gedoen nadat pres. Thabo Mbeki sekere gebiede in die provinsie (waaronder die Colesberg-distrik) in Januarie 2004 en Maart 2005 tot rampgebiede verklaar het.

Windvoël, wie se omstandighede dieselfde as die ander aansoekers s’n was, het in haar verklaring gesê sy is ongeletterd. Sy het nooit ’n vaste werk gehad nie. Wanneer sy nie tydelik op ’n plaas gewerk het nie, was sy van maatskaplike toelaes afhanklik.

Windvoël het ’n groentetuin met mielies vir ’n bykomende inkomste van sowat R400 per maand by haar huis bedryf.

Weens die droogte het sy dié bykomende inkomste verloor.

Waarnemende regter B.M. Pakati het in haar uitspraak gesê daar is geen twyfel dat die aansoekers behoeftig is nie.

Die aansoekers is ’n eenmalige droogtehulptoekenning van R900 elk ontneem.

Die aansoekers het in die hofgeding bewys die ramphulpfondsraad, die minister en die LUR het misluk of geweier om hul aansoeke om droogtehulp sonder redelike gronde te oorweeg.

Adv. R. Quinn, SC, het in opdrag van Towell & Groenewald-prokureurs vir die aansoekers opgetree. Adv. R. Mogagabe, SC, het in opdrag van die staatsprokureur vir die verweerders opgetree.

- Volksblad