SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

16 September 2011

Mosselbaai Ontploffing eis 'n lewe


Foto: Die skrootwerf waar die ontploffing Maandagoggend plaasgevind het. Die rooi pyl dui die tenk aan wat ontplof en die dood van mnr Samuel (Sampie) van Greunen veroorsaak het. Op die inlas is wyle mnr Van Greunen, vroeër afgeneem saam met een van sy kleinseuns.

MOSSELBAAI NUUS - 'n Ontploffing by 'n plaaslike skrootwerf het die lewe van 'n man geëis terwyl nog een ernstig beseer is en sy been later tydens ‘n operasie geamputeer moes word.

Werknemers van JB Skrootwerke was op Maandag, 12 September om 08:30 besig om 'n ou brandstof-opgaartenk oop te sny toe die slypmasjien se vonke en ou gasse in die tenk die ontploffing veroorsaak het.

Die twee plat kante van die ronde tenk het in die ontploffing los geskiet, en een het die manne getref.

Samuel Frederick van Greunen (55) het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die ander, mnr Nizibone Mndleleni (32) se een been is geamputeer en hy s nog steeds in 'n ernstige, maar stabiele toestand in die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal.

Bill Jeffrey Rylaan was vir geruime tyd vir verkeer gesluit om die plaaslike veiligheidsdienste die geleentheid te gee om die beseerdes te behandel en die geval te ondersoek.

Lt Kol Gert Coetzee van die Ontploffings Seksie: Misdaad Rekord en Misdaad Toneel bestuur: Forensiese Dienste, het die toneel besoek en dit na die ondersoek veilig verklaar.

'n Saak van Geregtelike Doodsondersoek word ondersoek deur S/ao Ryno Nortje van die Speurders Da Gamaskop.
Vroeër hierdie week is in ander media verkeerdelik berig dat 'n diesel trok ontplof het nadat dit in ‘n ongeluk was.

Samuel (Sampie) van Greunen laat sy pa Attie, susters, sy dogter Annemarie en haar man Henry Oosthuizen en al sy kleinkinders, en sy lewensmaat, Pat Mynro en haar kinders Koat, Alec en Theresa agter.

- Mossel Bay Advertiser