SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

02 August 2011

Talle haweloos ná brand plakkershutte verwoes

Honderde mense is sonder heenkome nadat ’n brand gister omstreeks 17:20 in Belgravia naby die Vygieskraalstadion in Ath­lone uitgebreek het.

Ongeveer 70 plakkershutte het gisteraand afgebrand en omtrent 300 mense is haweloos gelaat nadat die brand vinnig deur die plakkersbuurt versprei het.

Inwoners het beddens, stowe, yskaste en ander besittings uit hul huise gedra in die hoop om dit te spaar indien die brand nog verder sou versprei.

Mnr. Theo Layne, woordvoerder van die stad se brand-en-reddingsdienste, het gisteraand gesê niemand is in die voorval dood nie, maar twee mense is wel beseer.

“Een persoon is in die brand beseer en nog een is beseer toe hy iets probeer steel het. Die gemeenskap het hom gevang en aangeval,” het Layne verduidelik.

Mnr. Wilfred Solomons-Johannes, hoof van rampbestuur van die Kaapse stadsraad, het gisteraand gesê die inwoners het aangedui hulle sal eerder by hulle besittings bly as om in ’n gemeenskapsaal gehuisves te word.

“Hulle sal môreoggend van boumateriaal, elektrisiteit, water en ander humanitêre hulp voorsien word,” het hy bygevoeg.

Mnr. Magedien Davids, wyksraadslid vir die gebied, was ook op die toneel en het gesê hy hoop om te help reël dat daar na die mense sonder heenkome omgesien sal word.

Brandbestryders het die brand teen 21:15 heeltemal geblus.

Vyf brandweerwaens en vier watertenkvoertuie is gebruik, en verkeers- en metropolisiebeamptes, asook verteenwoordigers van rampbestuur was op die toneel.

- Die Burger