SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

02 August 2011

Meisies spring van brug oor Oranjerivier

UPINGTON. – Die gebroke ouers van twee tienermeisies wat gister hier glo van die voetgangerbrug oor die Oranjerivier gespring het, is dronkgeslaan oor waarom die meisies dit sou gedoen het.

Lede van die polisie se duikspan het gisteraand nog in die rivier na Lizette Dryer (16) en Ashley Andrews (15) gesoek nadat hulle gisteroggend vroeg van die brug in die rivier gespring het. Drie maats wat saam met hulle was, het die polisie ontbied.

Lizette is die dogter van ao. Franklin en mev. Cynthia Dryer en Ashley die dogter van mnr. Aubrey en mev. Ansie Andrews.

Mnr. Andrews het gisteroggend telkens trane weggevee terwyl hy op die voertuigbrug gestaan en kyk het hoe die polisie in die rivier na die meisies soek.

Hy het geen vermoede gehad oor waarom die meisies dit gedoen het nie. “Ons weet nie van enige probleme wat sy gehad het nie. Sy en haar ma het openlik oor dinge gepraat.”

Hy het sy dogter Vrydag laas gesien voordat sy vir die naweek by ’n vriendin gaan kuier het.

Dit is nie duidelik of sy in Louis­vale of die woonbuurt Die Rand gekuier het nie.

Een van haar vriendinne het haar hangertjie vir haar ouers gebring, maar haar selfoon is weg.

Toe hy haar oor die naweek probeer bel het, was die foon af.

Hy sê hy het gehoor Ashley het ’n seun geklap toe hy haar probeer keer het om te spring.

Die polisie het die Andrews-egpaar gisteroggend vroeg kom sê wat gebeur het.

Ao. Dryer sê ’n vriendin van Lizette het hulle gister omstreeks 07:15 kom sê wat gebeur het.

“Ek weet van geen probleme nie. Ons het gistermiddag (Sondag) nog gebraai.”

Ashley en nog ’n vriendin het Sondagmiddag by die huis aangekom. Lizette het vir haar ouers gesê sy gaan net ’n entjie saam met hulle stap, maar het nooit die aand huis toe gekom nie.

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie op Upington, sê die meisies was in ’n groep van vyf kinders op pad oor die voetgangerbrug toe die voorval gebeur het. Die ander kinders is erg getraumatiseerd.

- Volksblad