SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

01 August 2011

Brandweerman kon nie sy baba red

Jana van der Merwe

’n Brandweerman van Bloemfontein se gesin is die naweek uitmekaar geskeur nadat ’n motorongeluk die lewe van sy 10 maande oue baba geëis het en sy vrou ernstig beseer is.

Mnr. Cobus Coetzee, ’n lid van Mangaung se brandweer-en-reddingsdiens, het op die toneel sy enigste kind, Ethan, mond-tot-mond-asemhaling probeer gee terwyl sy vrou, Tania, nog vasgekeer en ernstig beseer in hul bakkie was.

Ethan het kort nadat hy deur die Netcare911-ambulansdienste na die Life-Rosepark-hospitaal gebring is, aan sy beserings beswyk.

Mnr. Coetzee is nie ernstig beseer nie, maar sy 22-jarige vrou was gister in ’n stabiele toestand in die neuro-intensiewesorgeenheid van dié hospitaal.

Sy is geopereer nadat sy verskeie beenbreuke aan haar onderlyf opgedoen het.

Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het Saterdag omstreeks 15:00 by die George Lubbe- en Kerkstraatkruising tussen die gesin se Opel Corsa-bakkie en ’n Mitsubishi Colt-bakkie plaasgevind. Die Colt was van Reddersburg na die stad onderweg terwyl die gesin in Kerkstraat van George Lubbe se kant ingedraai het in die rigting van die Fauna-woonbuurt.

Volgens mnr. Jeffrey Wicks, woordvoerder van Netcare911, is die bestuurder van die Colt na die Pelonomi-hospitaal gebring. Hy het ook gesê die baba in die Corsa het op sy ma se skoot gesit.

Mnr. Jabu Mbalula, provinsiale woordvoerder van die departement van gesondheid, kon nie gister teen druktyd sy identiteit of toestand bevestig nie.

Volgens mnr. Danie Coetzee, Ethan se gebroke oupa, was die Coetzee-gesin in hul Corsa op pad na die Fauna-woonbuurt om ’n DVD te gaan uitneem. Ethan het net die vorige dag 10 maande oud geword.

Coetzee sr. sê sy seun het nekbeserings in die ongeluk opgedoen en is nog erg geskok. Hulle het gister saam na die ongelukstoneel gegaan. Hier het hulle gekyk waar die Corsa-bakkie gesleep is en waar hy in die pad sy kind probeer red het.

Ethan se ma is reeds Saterdag vertel haar kind is dood.

“Tania sê haar lewe is weg.”

Hy sê sy het breuke aan haar bobeen, buik, bekken en lae rug opgedoen.

Coetzee sr. sê ondanks die ongeluk is hulle positief.

“Ons vertrou. Ons kyk na Bo.”

- Volksblad