SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

26 August 2011

Brande: 2 000 stuks vee vrek

Deur ALANI JANEKE

Meer as 2 000 stuks vee het die afgelope week in Noordwes gevrek in die brande wat daar voorgekom het, aldus Agri NW.

Mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van die organisasie, sê volgens ’n opname het meer as 200 000 ha landbougrond tot dusver in die slag gebly.

Die grootste hoeveelheid vee is in die omgewing van Potchefstroom verloor waar 460 beeste, 160 kalwers en 300 skape gevrek het. “Sowat 60 000 ha het daar afgebrand,” vertel Van Vuuren.

Moedeloos
Volgens Van Vuuren het hulle besluit om aansoek te doen om ramphulp na die verwoestende brande.

“Die boere is egter moedeloos en vra wat gaan dit hulle help, veral in die distrik Vryburg. Hulle het verlede jaar ook groot skade met brande gehad en hulle het tot nou toe nog niks van die staat gekry nie.”

Hy sê hulle ondervind wel bereidwilligheid by die provinsie se rampbestuursentrum om boere se las te verlig.

Hulp met voer
Die meeste boere wat deur die brande geraak is, sit met hul hande in die hare omdat hulle nie voer of weiding het nie.

“Derhalwe vra ons boere landswyd om ons asseblief met voerskenkings te help. Ons enigste uitweg vir onmiddellike hulp is om ons medeboere daarom te vra.”

Intussen sê mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, sowat 75 000 ha het reeds vanjaar in die Vrystaat afgebrand.

“Ons is wel optimisties dat dit die skade nie so erg sal wees soos verlede jaar nie, veral as jy kyk na wat in die distrik Bethlehem gebeur. Verlede jaar het 105 000 ha daar afgebrand en vanjaar het nog net 5 000 ha in die slag gebly,” vertel Procter.

Landbou.com - 25 Augustus 2011