SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

25 July 2011

Ysige weer vir Vrystaat en Noord Kaap voorspel

Kaydene Jordaan

Ysige weerstoestande met swaar sneeu en erge donderstorms word van vandag af in die Vrystaat en Noord-Kaap verwag.

Die nasionale weerdiens het ook gewaarsku dat erge donderstorms, gepaardgaande met sterk winde, die Noord-Vrystaat kan tref.

Swaar reën word oor die hele streek verwag.

Ysige toestande gaan die Vrystaat en groot dele van die binneland vandag en môre tref.

Mnr. Tonie Rossouw van die Bloemfontein-weerkantoor sê swaar sneeu word vir Lesotho en die aangrensende dele van die Noordoos-Vrystaat verwag. Ligte sneeu kan in die Bethlehem- en Harrismith-omgewing, asook in die Suid-Vrystaat by Smithfield, Rouxville en Fauresmith val.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens se waarskuwing vir die erge stormweer lui dat baie koue toestande in die Oostelike hoogliggende gebiede van die Wes-Kaap, suidelike dele van die Noord-Kaap en die Vrystaatse binneland verwag kan word. Matig tot swaar sneeuneerslae sal op hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap, Lesotho en Oos-Vrystaat val. Swaar reënval word langs die Wildekus en binneland van die Oos-Kaap verwag. Koue toestande word ook in die suidelike dele van die Noord-Kaap verwag. Dié koue toestande sal na verwagting môre voortduur. Ernstige donderstorms en sterk winde wat skade kan veroorsaak, is vir die Suid-Vrystaat en Noord-Vrystaat voorspel.

Vir Bloemfontein word bewolkte weer en verspreide donderbuie verwag. Die minimum temperatuur vandag in Bloemfontein is 3ºC en die maksimum temperatuur net 10ºC. Vir Kimberley word ’n minimum temperatuur van 5ºC en maksimum temperatuur van 11ºC voorspel.

- Volksblad