SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

06 July 2011

Weer in Fokus: Goeie kans vir nog swaar reën

Net toe dit lyk asof daar teruggekeer word na "normaal", tref 'n baie sterk weerstelsel byna in die middel van die winter groot dele van die land.  Die tipe stelsel hiervoor verantwoordelik en wat as 'n afsnylaagdruk bekend staan, is soortgelyk aan die stelsel wat die vloede in Laingsburg in 1981 veroorsaak het, asook ander baie swaar reënstelsels oor kleiner gebiede.  In wese is 'n afsnylaag maar 'n baie sterk laagdrukstelsel wat tussen twee hoogdrukstelsels afgeknyp of afgesny word van die groter trog van laagdruk en aanhoudend met vogtige lug voorsien word.  'n Laagdrukstelsel is stygende lug en dit veroorsaak dat vogtige lug in die atmosfeer opgeneem word tot in koeler lae waar kondensasie plaasvind en wolke en reën vorm.

Die afsnylaagdrukstelsel wat vanaf 7 - 11 Junie voorgekom het, het begin oor die noordwestelike dele van die land en geleidelik suidooswaarts beweeg.  Die topografie (berge) van die Suid Kaap het waarskynlik bygedra om verdere opligting van vogtige lug te veroorsaak toe die afsnylaag oor hierdie gebied inbeweeg het om baie swaar reën te veroorsaak.

Ander nuwe faktore:  Die La Nina-verskynsel (see-oppervlaktemperature koeler as normaal in die sentrale Stille Oseaan) het verdwyn en tans is see-oppervlaktemperature omtrent normaal.  Die vinnige verandering vanaf La Nina na neutraal stimuleer dikwels winterreënval.  Die rede hiervoor is dat dit die posisie van koue fronte noorwaarts skuif en tesame met die baie vog wat steeds teenwoordig is, redelike goeie reën kan veroorsaak.  Verdere reën is dus veral moontlik oor die Wes-, Suid- en Oos Kaap vir die res van Julie.  Dit is 'n verbetering vanaf vorige voorspellings omdat die La Nina-verskynsel redelik vinnig verander het.

'n Verdere aspek is dat sneeuneerslae vanjaar ook swaarder as normaal kan wees as gevolg van die hoër lugvog tesame met die tropiese vog wat steeds teenwoordig is soos wat die geval in die eerste twee weke van Junie was.  Die kanse vir verdere swaar reënval oor veral die Suid- en Oos Kaap bly ook goed.

Dit kan die kanse vir vloede verhoog omdat die afgelope paar weke se swaar reën die grond reeds versadig het en die meeste riviere in vloed gelaat het. Die meeste damme in die Suid Kaap is tans vol of byna vol maar dit is veral in die Oos Kaap waar die grootste verbetering in damvlakke in die laaste paar weke voorgekom het.

Ons kan uitsien na 'n interessante winter wat voorlê.  Daar is nog rederlik baie onsekerheid oor die somer-seisoen ne daar sal eers teen September/Oktober meer sekerheid wees.

Outeur:  Johan van den Berg- SANTAM Landbou

SAWDIS:  Johan sover is jy defnitief in die kol met jou voorspelling.  Die afgelope twee dae se swaar reënval stem ooreen met jou voorspelling. Ja ons het reeds 'n interessante winter sover beleef in die Suid- en Oos Kaap.  SAWDIS Weer en Rampwaarnemers wees dus op jul hoede vir moontlike verdere swaar reën en sneeuneerslae in die Wes- Suid- en Oos Kaap.  Die publiek word ook uitgenooi om fotos en waarnemings van gure weer te stuur aan die SAWDIS.  Klik HIER om 'n epos te stuur aan die SAWDIS