SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

29 July 2011

Vrywilligers trotseer 6m hoë golwe


Die Dijaande kan in die verte gesien word. Dié foto is vanaf die NSRI Vodacom Rescuer geneem. Foto: Dawie Zwiegelaar

MOSSELBAAI NUUS - Die vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) van Mosselbaai het op Sondag, 24 Julie, in gure weersomstandighede tot die vistreiler, Dijaande, se redding gekom.

Volgens die woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, het die NSRI Mosselbaai om 09:56 'n oproep van Dijaande ontvang. Sy het ratkasprobleme ondervind en was ongeveer 16 myl (bykans 31km) die see in, in ‘n onstuimige see waarvan die golwe op daardie stadium sowat 6m hoog was.

Volgens Assistent Stasie-bevelvoerder van Mosselbaai NSRI, André Fraser, het nie een van die Dijaande se bemanning beserings tydens die voorval opgedoen nie, maar het "een van ons vrywilligers sy rug in die rowwe seetoestande beseer".
Die Dijaande is deur die NSRI Mosselbaai se Vodacom Rescuer tot in die Mosselbaai Hawe-mond gesleep.
Vandaar het die hawe se sleepboot die treiler na veiligheid gebring.

"Ons het teen 17:00 klaar gekry en die manne is moeg, maar tevrede, huistoe." sê Fraser.

ARTIKEL: LOUISE POSTHUMA, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS