SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 July 2011

Vermiste drie in canyon gekry

Hilda Fourie

Drie Suid-Afrikaanse stappers is gistermiddag laat in die Visrivier-can­yon in Namibië gevind nadat hulle nie Maandag hul bestemming bereik het nie.

’n Grootskaalse soektog is toe begin om ao. Rick Harmse (45), wat in die lugmag is, sy vrou, Sandra (42), en me. René Booysen te vind.

Die Harmse-egpaar is van Theresapark in die noorde van Pretoria.

Dit is onduidelik van waar Booysen kom.

Me. Rina Vrey, ’n groeplid, het laat weet daar is gistermiddag laat met ’n helikopter begin soek nadat daar drie dae lank vergeefs te voet gesoek is.

Die drie is uit die helikopter gesien en opgepik sowat drie kilometer van Ai-Ais net agter die kamp se koppe. Hulle was verdwaal, maar ongedeerd.

Hulle was deel van ’n groep van sewe wat in die canyon gaan stap het.

Vrey het gister gesê die groep moes Maandag oor ’n groot rots klim om uit die kloof te kom.

Die Harmse-egpaar en Booysen het agtergebly omdat die twee vroue baie moeg was en Booysen blase op haar voete gehad het.

Dit was sowat 15 km van die laaste kamp by Ai-Ais af.

“Die oom het gesê hulle sal ons by die rivier kry,” het Vrey gesê.

“Ons het ’n uur en ’n half op hulle gewag, maar hulle het nie uit die kloof gekom nie.

“Ons het teruggegaan waar ons hulle gelos het, maar hulle nie gekry nie.”

Die groep het die aand daar kamp opgeslaan.

Dinsdagoggend het Vrey en mnr. Pieter Botes na Ai-Ais gegaan om hulp te kry, terwyl mnr. Marius Rohlandt en sy vrou, Rentia, terug is na waar hulle die stappers gelos het.

Die Rohlandt-egpaar het Dinsdagaand teruggekeer na Ai-Ais.

Eergister het mnr. Rohlandt saam met veldwagters na die drie gaan soek, maar niemand gekry nie.

Hy het tydens die soektog geval en sy arm beseer.

In die drie dae wat die groepie weg was, het verskeie stapgroepe uit die canyon gekom, maar niemand het hulle gesien nie.

Me. Catharine Teague, ’n vriendin van die Harmse-egpaar, het gister gesê sy en die egpaar se twee dogters, Shana-Lee (18) en Rolize (17), het eers Dinsdagaand onraad begin vermoed toe hulle nie by die huis opdaag nie.

Hulle het Woensdag uitgevind die egpaar het nog nie uit die canyon gekom nie. “Die kinders was in ’n toestand,” het Teague gesê.

- Die Beeld