SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

27 July 2011

Verkeersmense in Van Reenens vas weens sneeu

Dié motor het gister verlate naby Golden Gate gestaan nadat dit waarskynlik die vorige aand nie verder kon ry nie. Swaar sneeuneerslae eergisteraand in die Oos-Vrystaat het veroorsaak dat die N5 gister vir verkeer gesluit was. Foto: Willem van den Berg

Dries Liebenberg

Durban. – Vyf provinsiale ­verkeersbeamptes in drie voertuie is eergisternag in Van Reenenspas deur die sneeu vasgekeer.

Hulle kon eers gister teen 11:00 gered word.

Vier mense was ook in die Oliviershoekpas, tussen Harri­smith en Bergville, in ’n BMW X5 vasgekeer nadat die motor van die pad geloop en in sneeu vasgeval het.

Volgens mnr. Prem Balram van die veiligheidsmaatskappy Reaction Unit South Afrika het die man, sy seun en twee werkers eergisternag dié ompad probeer toe Van Reenenspas by Harrismith gesluit is.

Me. Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse vervoerdepartement, het gesê verskeie pogings om die ys van die padoppervlak in Van Reenenspas te skraap, is in die wiele gery deur voortdurende sneeuneerslae deur die loop van die dag.
Selfs ’n padskraper het in die moeilikheid beland.

“Ons weet nie hoeveel voertuie in die pas vasgekeer is nie omdat niemand daar kan uitkom nie,” het sy gesê.

Verkeer op die N3 is gisteroggend al anderkant Pietermaritzburg voorgekeer en gevra om om te draai.

Die N3 was ook by Nottingham Road gesluit, terwyl ligte sneeuneerslae selfs in Howick, Bergville en Winterton voorgekom het.

Kokstad en Matatiele was van die buitewêreld afgesny.

Die ondernemings in Kokstad was toe en skole gesluit weens die onbegaanbare paaie.

“Buite lê die sneeu enkeldiep. Dis die enigste keer dat kinders nie ’n siekbrief hoef te hê om by die huis te bly nie,” het me. Annette Wicks, eienaar van die gasteplaas Stoneybrook buite die dorp, gesê.

Die Wicks-egpaar het gister op ’n kragopwekker en kaggelvuur staatgemaak om warm te bly.

Al die toegangspaaie na Newcastle was ook gesluit.

- Die Beeld