SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

31 July 2011

Twee sterf toe tuig neerstort naby Hartbeespoortdam

Daleen van Manen

Johannesburg - Twee mans in hul 20’s is Saterdagoggend dood toe hul ligte vliegtuig in die Magaliesberg naby die Hartbeespoortdam neergestort het.

Die twee mans, van wie die een glo ’n vlieginstrukteur van Centurion was, het gisteroggend in ’n Cessna 177 vanaf die Grand Central-lughawe opgestyg en omstreeks 10:00 teen die noordelike hang van die Magaliesberg neergestort.

Volgens ’n ooggetuie, dr. Jannie Hugo, wat aan die voet van die berg woon, het die vliegtuig laag, met een vlerk hoër as die ander, oor sy huis gevlieg. “Die volgende oomblik het ek net die slag gehoor.”

Hugo, ’n mediese dokter, het sowat 800 m teen die berg opgeklim na waar die wrak was. “Albei was reeds dood,” het hy gesê. Hy kon danksy dokumentasie by die wrak die vlieënier se ouers kontak.

Plaaseienaars het die Hartbeespoort-noodreddingseenheid met viertrekvoertuie so ver moontlik teen die berg opgeneem, van waar hulle nog sowat 300 m moes klim om by die wrak te kom.

’n Helikopter van die nasionale noodreddingsdiens kon ook nie nader aan die wrak kom om die lyke te verwyder nie.

Polisiehelikopters het tot laatmiddag probeer om ’n landingsplek te vind, maar moes uiteindelik teen 16:00 die lyke ophys. Teen druktyd was die mans se identiteit nog nie bekend gemaak nie.



- Rapport