SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

09 July 2011

Tukkie verdrink in see tydens Margate-vakansie

’n Student aan die Universiteit van Pretoria het eergisteraand verdrink toe hy kort voor middernag saam met vriende in die see gaan swem het.

Gistermiddag het die Na­sionale Seereddingsinstituut (NSRI) steeds tussen Margate en Ramsgate na mnr. Cobus Coetzee (21) se lyk gesoek.

Coetzee, wat ’n derdejaarstudent in joernalistiek was, het vroeër vakansiewerk by Beeld gedoen. Hy was ook ’n sportverslaggewer by die UP se amptelike studentekoerant, Perdeby.

Hy het sedert verlede Vrydag saam met sy suster, Christelle (19), en vriende in Margate vakansie gehou.

Mnr. Adriaan Marais (24) het gesê hy, sy broer, Cilliers, (22), sy meisie, me. Renate Wagner, en Coetzee het eergisteraand omstreeks 23:30 besluit om te gaan swem.

“Ons was omtrent kniehoogte in die see in. Ná ’n ruk het ons besluit om dit eerder te los, want die water het te rof geraak,” het Marais gesê.

“Ek het my meisie uit die water gehelp toe ek hoor hoe my broer na Cobus roep.

“Cobus was besig om die see in te dryf. Ons het geroep, maar hy net nie gereageer nie. Ek het gesien hoe sy kop oor ’n brander gaan en toe is hy net weg.

“Ons het rondgehardloop om te kyk of ons hom sien, maar daar was niks.”

Wagner is na die woonstel om Coetzee se suster te vertel, waarna hulle die polisie ontbied het.

- Die Beeld