SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

06 July 2011

Tienjarige brand erg in tent


Die uitgebrande woonwa en tent van die Huskisson-gesin van Pretoria in die Margate-woonwapark. Foto: Michelle Baker

Elaine King

Margate. – ’n Tienjarige seun van Pretoria het ernstige brandwonde opgedoen toe ’n woonwa waarvoor sy gesin lank gespaar het, aan die brand geraak het.

Bjorn Huskisson het 22% brandwonde opgedoen en is van die Margate-hospitaal na die waakeenheid van die St. Augustine-hospitaal in Durban oorgeplaas, het mnr. Jonny Els, wie se woonwa sowat 5 m van die brandende een gestaan het, vertel.

Die brand het Donderdag omstreeks 03:00 ontstaan, het kapt. Gerald Mfeka, polisiewoordvoerder, gesê. “Bjorn se arms, bene en gesig is gebrand.”

Els het vertel: “Ek het wakker geword van gille en was binne ’n halfminuut op en buite my karavaan.

“Dit was absoluut vreesaan­jaend om te sien, want die groot tent langs die karavaan was binne minute daarmee heen voordat die karavaan ook begin brand het.”

Volgens hom het mnr. André en me. Karen Huskisson ’n paar jaar vir die woonwa gespaar waarmee hulle saam met Bjorn en hul ander seun, die 14-jarige Pierre, in die Margate-woonwapark vakansie gehou het.

“Wat ons dink gebeur het, is dat die seuns hul eie klein tentjies in die hooftent gehad het.

“Die brand is deur ’n elektriese fout veroorsaak, wat ons vermoed weens ’n elektriese kombers kon gewees het, en toe die tentmateriaal eers begin brand, was dit soos ’n veldbrand,” het Els vertel.

“Gelukkig was die pa pas op om toilet toe te gaan en hy het nog nie weer geslaap nie, dus was hy wakker toe die brand uitbreek. Die ouers het die seuns se tente oopgeskeur en hulle daaruit gekry en binne 20 minute was daar geen karavaan oor nie.
“Ons het net gekyk hoe dit uitbrand terwyl ons ’n ambulans en die brandweer gebel het.”

Intussen het Els ver ente met emmers water heen en weer gehardloop omdat sy eie woonwa se agterlig van die hitte begin smelt het. By die naaste kraan was die hitte van die vlamme ondraaglik.

Van die ander mense het ook kop gehou en mnr. Huskisson se motor verskuif voordat dit ook aan die brand geraak het. Sy beursie was gelukkig daarin.

Volgens Els het hy gister met die gesin gepraat. Bjorn word in die waakeenheid gehou weens die risiko van infeksie. Die ander gesinslede bly by kerkvriende van hulle.

“Die ma het ook gebrande hande omdat sy aan die tentmate­riaal gevat en die seuns uitgesleep het,” het Els gesê.

“Ek is ook vandag dokter toe weens die blase op my gesig.

“Die hitte was ongelooflik, veral toe die gasbottel ontplof het, maar dit kon erger gewees het,” het Els gesê.

“Dis nie iets wat jy ooit wil aanskou nie.”

- Die Beeld