SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

25 July 2011

Swaar sneeu val in die Oos Kaap

Twee bergpasse in die Oos-Kaap is gesluit nadat dit swaar begin sneeu het. Die N6 is gesluit by die Pennhoekpas tussen Queenstown en Jamestown en so ook die Nico Malanpas tussen Seymour en Whittlesea. Die R56 tussen Mount Fletcher en Matatiele in die noorde van die provinsie is intussen baie glad as gevolg van sneeu en motoriste is gevra om versigtig te bestuur. Op die R61 tussen Queenstown en Cofimvaba het sneeu uitgesak en op Cathcart en Dordrecht sneeu dit sedert laasnag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen hernieude waarskuwings uitgereik van baie koue toestande met swaar reën oor dele van die land. Sneeu word ook voorspel in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Noord-Kaap, met rowwe seetoestande aan die Kaapse kus. Uiters koue weer sal Gauteng na verwagting môre tref. Swaar reën het gister in Port Elizabeth uitgesak, wat gelei het tot die sluiting van talle paaie in die gebied.

- RSG Nuus