SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

27 July 2011

Student red talle uit brandende woonstelgebou


’n Hoekwoonstel van Olivanna Mansions in Krugersdorp in ligte laaie. Foto’s: Amanda Roestoff

Amanda Roestoff

’n Krugersdorpse student en sy vriende het gister op sy verjaardag mense uit ’n brandende woonstelgebou gered.

Mnr. Shaun Sikhakhane was omstreeks 10:25 van die South West Gauteng College (Westcol) in Luipaardstraat op pad na ’n kafee toe hy en sy vriende sien hoe rook en vlamme uit die
boonste verdieping van Olivanna Mansions in Marketstraat borrel.

Sikhakhane het sy vriende – mnre. Douglas Nkala, Tshepo Gaearwe, James Skosana en Phindile Tshabalala – aangemoedig om die gebou saam met hom binne te gaan.

Terwyl die brand besig was om sowat agt woonstelle drie verdiepings hoër in puin te lê, het Si-khakhane die deur van mnr. Lucas Krige en sy vrou, Florence, se woonstel op die onderste vloer afgeskop.

Krige was nog op sy bed en vas aan die slaap.

“Ek het hom wakker gemaak en met krukke en al na veilig-heid gebring,” het Sikhakhane gesê.

Skosana en van die ander het gehelp om ’n ses maande oue babameisietjie uit die gebou te kry.

“Ek voel so trots op myself. Dit is soos ’n ekstra verjaardaggeskenk om iemand so te help,” het Sikhakhane vertel.

Die eerste brandbestryders het omstreeks 11:15 opgedaag, het mnr. Gerhardt Niewoudt, waarnemende hoof van nooddienste van die Wes-Randse distriksmunisipaliteit, gesê.

Brandweerwaens het eers later by die toneel opgedaag omdat hulle nog besig was om die vlamme by ’n huis in Corkstraat, Kenmare, te blus.

Mnr. Marius Fourie, opsigter van die woonstelgebou, was by die werk toe hy ontbied is. “Die mense kon die brand nie help blus nie, want die munisipaliteit het die gebou se water twee weke gelede afgesny. Daar was ook geen brandblussers binne die gebou nie,” het Fourie gesê.

Die brandweer ondersoek tans die moontlikheid dat ’n verwarmer wat vermoedelik omgeslaan het die brand veroorsaak het, het Niewoudt gesê.

Me. Vanessa Jackson, woordvoerder van die ER24-nooddiens, het gesê niemand is beseer nie.

Mnr. Nkosana Zali, woordvoerder van die Mogale City-munisipaliteit, kon teen druktyd nie kommentaar oor die afsny van die water lewer nie.

 - Die Beeld