SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

26 July 2011

Sneeu eis talle lewens in Oos-Kaap

Skielik sneeuvalk  Een van die lugmag se Rooivalk-helikopters gister in Elliot in die Oos-Kaap. Die helikopter is deel van die lugmag se magvoorbereidingsoefening, Oefening Winter Solstice, wat tans in KwaZulu-Natal en in die Oos-Kaap gehou word. Sneeu en reën het sedert die naweek oor die Oos-Kaap uitgesak en die binneland se weer beïnvloed. Foto: www.flyafrica.info

Mariska Spoormakeren Riaan Marais

Port Elizabeth. – Die Oos-Kaap het gister onder wye sneeuneerslae deurgeloop wat talle lewens geëis en verkeersontwrigting tot gevolg gehad het.

Naby Butterworth het vyf mense in ’n ongeluk gesterf en minstens drie busse was ure lank gestrand toe paaie in die Queenstown-distrik weens gevaarlike paaie gesluit is.

By Keimond aan die Wildekus is die lyk van ’n man (56) in ’n stormwaterdrein gekry nadat hy vermoedelik gegly en geval het tydens swaar ­reën, het die polisie gesê.

Volgens Tobie Jonck, verkeerverslaggewer van Bay FM, was daar sedert Vrydag minstens 50 ongelukke in die Oos-Kaap wat met die weer verbind kan word.

Sneeu het oor groot dele van die Karoo uitgesak en ’n dorp soos Somerset-Oos was vir die eerste keer in 75 jaar wit. Sneeu het hier plek-plek tot ’n meter diep gelê.

Op Beaufort-Wes het dit vir die eerste keer in 30 jaar op die dorp en in die omgewing gesneeu en baie mense het van die werk weggebly om die skouspel te gaan bewonder.

Tussen Bedford en Tarkastad is die veld so toe onder die sneeu, “ons kan nie eers by die vee uitkom nie”, het mnr. Lawrey Pringle van Bedford gesê.

In ander dele van die provinsie het die sneeu teen gistermiddag steeds geval.

Queenstown het sy eerste sneeu in 35 jaar beleef, terwyl Hogsback ook spierwit was.

Kragonderbrekings in dorpe soos Cala, Dordrecht en Mthatha het inwoners behoorlik laat bibber.

In die Barkly-Oos-distrik, waar daar teen gistermiddag al tussen 35 – 40 cm sneeu geval het, raak die boere bekommerd oor hul vee omdat die weiding toegesneeu is.

“Vandag kon ons nog voer aanry, maar as die sneeu aanhou val, sal ons môre nie eers by die skape kan uitkom nie,” het mnr. Pat Vorster gesê.

Die sneeu het ook met swaar reën sedert die naweek gepaardgegaan.

Die tydelike brug oor die Sandrivier tussen Humansdorp en St. Francisbaai – wat met onlangse swaar reën in plek gekry moes word nadat die permanente brug verspoel het, het die naweek weggespoel.

Verder het talle paaie in die Kouga- en metro-munisipaliteite diep slaggate bygekry.

- Die Beeld