SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

21 July 2011

Reën kan Kapenaars dalk die naweek uit hul sonnige winterslaap skud

Kobus Pretorius

Kaapstad

Moontlike reën teen die einde van die week kan Wes-Kapenaars se sonpartytjie bederf.

Kapenaars het vanweë die sonnige weer van die laaste tyd al amper vergeet dit is die middel van die Kaapse winter.

“Daar is beslis iets om oor opgewonde te raak,” het mnr. Henning Grobler, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, ges oor die moontlikheid van goeie reënval teen die einde van die week.

“Ons sal môre (vandag) of Vrydag ’n beter idee hê oor die hoeveelheid reën wat verwag kan word.”

Grobler het gesê die reën word veral in die gebied wat strek van die Suid-Kaapse kus tot in KwaZulu-Natal en in die Kaapse metropool verwag.

Mnr. Farouk Robertson, woordvoerder van die Kaapse stadsraad se water- en sanitasie-afdeling, het gesê die belangrike damme wat die metro en omgewing van drink- en besproeiingswater voorsien, soos die Theewaterskloofdam, Voëlvleidam, Wemmershoekdam en die Steenbrasdam, is sowat 77% vol.

“Die damme is taamlik vol. Ons is nie in dié stadium bekommerd nie.

“Mense moet egter aanhou om water te bespaar, ongeag wat die watervlakke is. Jy kan nie water spaar as jy nie water het nie.”

Die kans dat dit vandag in die Skiereiland gaan reën, staan op ’n skrale 30%, met ’n maksimum temperatuur van 15°C.

Temperature wat wissel tussen 19°C en 20°C word vir die res van die week op Vredendal voorspel.

Sutherland, wat gisteraand ’n yskoue -9°C moes trotseer, se maksimum temperatuur sal geleidelik afneem tot 11°C en 9°C wat onderskeidelik vir Sondag en Maandag voorspel word. ’n Koel 12°C word vir môre op dié Karoo-dorp voorspel en 13°C vir Saterdag.

Temperature op Oudtshoorn sal die res van die week wissel tussen 17°C en 13°C.

’n Reënvoorspelling van 30% is vir die hele week en naweek Hermanus se voorland.

George kan vandag en môre ’n maksimum temperatuur van onderskeidelik 17°C en 16°C verwag met ’n 60%-kans op reën wat van Sondag geld.

- Die Burger