SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

29 July 2011

Pasiënte skuif toe middel stort


Pasiënte word haastig uit die Flora-kliniek se onkologie-eenheid verwyder ná ’n chemiese storting gister in dié hospitaal.
Foto: NELIUS RADEMAN

Die onkologie-eenheid van die Flora-kliniek in Roodepoort is gisteroggend haastig ontruim ná ’n chemiese storting.

Die pasiënte is inderhaas na ander afdelings van die hospitaal geneem nadat die chemikalie parasol, ’n swamdoder, in dié afdeling gestort is.

Me. Marietjie Shelly, woordvoerder van Life Healthcare, wat die hospitaal besit, het in ’n verklaring gesê die ontsmettingsmiddel word gebruik vir die sterilisering van dialise-toerusting.“Omstreeks 11:30 is die ontsmettingsmiddel per ongeluk in ’n gang buite die onkologie-eenheid gestort. Die walms kan oogirritasies veroorsaak en tot duiseligheid lei,” het sy gesê.

Volgens Shelly het hospitaalpersoneellede die pasiënte in die eenheid dadelik na die trauma- en die noodgevalle-afdeling geneem. Sommige pasiënte wat aan hul beddens en toerusting vasgekluister is, is deur die trauma-eenheid na die parkeerterrein om die gebou na ander afdelings op die eerste verdieping van die hospitaal gestoot.

“Een personeellid is vir inaseming van die walms en direkte kontak met die middel behandel,” het Shelly gesê.

Die deure en vensters van die eenheid is gesluit en nooddienswerkers van die Floridapark-brandweerstasie is ontbied om die chemikalie te neutraliseer. ’n Koeksodamengsel is gebruik om die ontsmettingsmiddel te verdun en dit onskadelik te stel.

“Teen 13:15 was die situasie onder beheer en pasiënte sal na hul eenheid geneem word sodra die reuk heeltemal weg is,” het Shelly gesê.

Sy het pasiënte, besoekers en personeellede namens die bestuur van die hospitaal om verskoning gevra vir die ongerief.

– Jani Meyer