SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

07 July 2011

Oos-Vrystaat onder koudstes in land

Willem van der Berg

DIE Oos-Vrystaat was eergisteraand loshande die koudste plek om in te wees.

Volgens mnr. Tonie Rossouw van die Bloemfonteinse-weerkantoor was Bethlehem en omgewing onder die koudste plekke in die land.

Bethlehem het eergisteraand met ’n minimum van -6°Celsius gebibber.

Nie eens die berugte Sutherland-koue kon hierby kom nie. Sutherland was een graad “warmer”.

In die res van die Oos-Vrystaat het die kwik rondom -5°Celsius stilgestaan.

“Dit is egter nie ’n buitengewone winter nie. Ons het nog geen -8’s en -9’s opgetel nie en ons weet Bethlehem kan soms -12 word. Dit is eintlik ’n bo-normale winter met warmer temperature as verwag,” sê Rossouw.

Hy sê Bloemfontein was eergisteraand die grootste verrassing toe die stad se temperatuur nie eens onder vriespunt gedaal het nie, maar op 1 bly staan het. Self die ou Kalahari was kouer met -3 op Upington en -2 op Kuruman.

Temperature sal van môre af styg en Rossouw voorspel ’n aangename naweek met lekker weer. –Willem van der Berg

- Volksblad