SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

27 July 2011

Noord-Kaap in wit getooi

André Botha

UPINGTON. – Terwyl sonskynweer gister die ergste koue in die Noord-Kaap verdryf het, kon inwoners van verskeie Karoo-dorpe in die provinsie steeds nie uitgepraat raak oor die wit sprokiesland waarin hul dorpe getooi was nie.

Op Hanover het dit volgens inwoners Maandag die eerste keer sedert 1994 gesneeu. ’n Wit sneeulaag het die grond op die dorp bedek.

Mev. Koeks Lubbe van Victoria-Wes sê die sneeu wat Maandag op dié dorp geval het, is nie hier ’n ongewone gesig nie. Dit sneeu feitlik elke jaar in Augustus.

“Dis ongelooflik as jy in die oggend opstaan en die hele wêreld is spierwit. Dit lyk dan soos Switserland hier by ons, met ’n byna onheilspellende stilte.”

Sutherland, wat daarop aanspraak maak dat dit die koudste dorp in die land is en waar dit gereeld sneeu, moes gisteroggend met net ’n klein bietjie sneeu tevrede wees.

Maar, sê mev. Ester Jordaan, ’n inwoner, dit het darem al drie keer vanjaar hier gesneeu.

Dié dorp was Maandagnag die naaskoudste in die land met ’n temperatuur van -5º C (Dordrecht was die koudste met -6º Celcius).

Maar dit is nie die soort weer wat inwoners afskrik nie, dit was vanjaar al -10º C, sê Jordaan.

In die Carnarvon-distrik het dit Maandag ook heelwat gesneeu, hoewel dit minder op die dorp self gesneeu het, sê mnr. Pieter Hoffman van dié dorp. Die pad tussen Williston en Carnarvon was toe onder die sneeu. Heelwat sneeu het ook op die plaas Klerefontein, waar die Square Kilometre Array (SKA)-projek se plaaslike kantore is, geval.

Gister was egter ’n heerlike sonskyndag.

In die distrik De Aar, waar dit ook gereeld in die winter ’n keer of wat sneeu, was daar teen gistermiddag nog nie sneeu nie.

Mnr. P.G. Marais van die plaas Nuwejaarsfontein, sê die wind het Maandag baie sterk gewaai en windpompkoppe is onder meer beskadig.

Dit was gister nog maar koud in die distrik.

Volgens die weerkantoor sal dit na die naweek toe effens warmer word.

- Volksblad