SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

11 July 2011

Kwads bots in lug


Foto; Een van die kwadfietse voor die grondwal waar die ongeluk gebeur het.

Carla van Niekerk

Klerksdorp. – ’n Pa van drie kinders is dood toe hy ’n grondwal op ’n kwadfietsbaan blykbaar van die verkeerde kant benader en reg van voor teen nog ’n ryer gebots het.

Dit was die eerste keer dat mnr. David Reineke (35) op dié baan gery het.

Mnr. Rudie Conradie (20) het gister vanuit die Wilmedpark- private hospitaal vertel hy en sy vriend mnr. Ruan Roets (24) het eergister oudergewoonte op dié grondbaan gaan motorfiets ry.

Omstreeks 16:00 het hy en Reineke teen mekaar gebots.

Volgens Conradie het hy en Reineke een van die spronge oor ’n grondwal van teenoorgestelde kante benader en mekaar in die lug getref.

“Die baan gaan kloksgewys en hy (Reineke) het dit seker nie geweet nie. Ek het hoër as hy gespring en bo-op hom geland.

“Ek kon nie sien nie en ek het gedink ek het hom op sy motorfiets getref.”

Conradie en Reineke is albei van hul motorfietse geslinger.

Reineke was bewusteloos.

Roets het gesê hy ry gewoonlik voor wanneer hulle die spronge doen, maar eergister het Conradie die voortou geneem.

“Ek het nie eens die ander man gesien nie. Ek het net gesien daar trek Rudie en toe kom die ander motorfiets op my af.

Hy (Reineke) was nie meer op die motorfiets nie. Toe dit grond vat, het die motorfiets gedraai en my voet getref.

“Net my toon is verstuit.”

Roets het met sy motorfiets gery om hulp te ontbied.

Kort daarna is Reineke en Conradie na die Wilmedpark-hospitaal geneem, maar Reineke is sowat twee uur later dood.

Conradie, wat vandag met ’n loodgieterskursus in Pretoria sou begin, het sy regterbobeen en linkerpols gebreek en eergisteraand is aan albei ledemate geopereer.

“Die motorfiets het vooroor geslaan en ek het met my hand gekeer toe ek val.

“Die motorfiets het bo-op my been geland.”

Sy ma, me. Sandy Conradie, het gesê haar seun was erg ontsteld toe hy gisteroggend uitvind Reineke is dood.

“Dit is baie hartseer. Ons hart gaan uit na sy familie toe.”

Mnr. Johan Reineke het gesê sy seun het eergister sy motorfiets geleen om mee te gaan ry.

“Hy het al voorheen motorfiets gery, maar nie op hierdie baan nie. Dit was ’n fratsongeluk.

“David het vir die Here, sy vrou en kinders gelewe. Hy was ’n besonderse mens. Die helfte van Klerksdorp het hom geken.”

Die kinders is onderskeidelik 15 jaar, 10 jaar en vier maande oud.

Reineke sr. het vertel sy seun, wat sy eie bou-onderneming gehad het, het hom nog sowat tien minute voor die ongeluk van die baan gebel.

“Hy het gesê: ‘Pa, hierdie motorfiets van jou ry lekker.’

Die volgende oomblik het die man wat saam met hom daar was, gebel en gesê daar was ’n ongeluk.

“Twee uur later is hy oorlede.”

Reineke het gesê hulle weet nog nie presies wanneer die begrafnis gehou sal word nie, maar beoog om dit Vrydag te doen.

- Die Beeld