SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

29 July 2011

Koue is terug en ligte sneeu word hiér verwag

Fanie van Rooyen

Trek maar ’n ekstra baadjie aan voordat jy die voordeur vanoggend oopmaak, want die koue is weer hier.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gister gesê ’n vinnig bewegende kouefront wat gister oor die Wes- en Noord-Kaap en die Vrystaat beweeg het, sou Gauteng teen vanoggend bereik.

“Dit is nogal ’n sterk kouefront wat koue en winderige toestande na die binneland sal bring,” het mnr. Mark Todd, ’n SAWD-weervoorspeller, gesê.

Die kwik in Pretoria sal vandag net tot 15 ºC styg en in Johannesburg net tot 12 ºC.

Môre se verwagte minimum en maksimum temperatuur vir Pretoria is 1 ºC/17 ºC en vir Johannesburg -1 ºC en 15 ºC.

Todd het gesê hoewel dit lyk of die swaar sneeuneerslae van die afgelope week vir eers verby is, is ligte sneeuneerslae nietemin gisteraand oor die hoogliggende dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, Lesotho en die suidelike Vrystaat verwag.

“Nog ligte sneeu word môre (vandag) oor die Drakensberge en die suidwestelike hoogliggende gebied van KwaZulu-Natal verwag,” het hy gesê.

Daar is volgens Todd ’n skraal moontlikheid dat nog ligte sneeu vanoggend oor Van Reenenspas, wat die laaste paar dae weens sneeu gesluit was, sal val.

“As daar nog sneeu val, sal dit egter nie naastenby soveel wees soos vroeër in die week nie.”

Van môre sal die temperatuur weer geleidelik begin styg.

“Omdat die kouefront vinnig beweeg, sal dit die land teen Saterdag verlaat het. Dit gaan egter ’n paar dae duur voordat die temperatuur herstel en inwoners van Gauteng en omliggende gebiede kan ’n koel tot koue naweek verwag.”

Mnr. Ray de Vries, woordvoerder van die organiseerders van die Dusi-kanowedvaart, het gister gesê die watervlak van die Dusi- en die Umgenirivier styg weens die smeltende sneeu steeds. Die Midmar- en die Nagledam is volgens hom onderskeidelik 97% en 94% vol en die Inandadam 101,4% vol.

Mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, het burgers, motoriste en nooddienste gister vir hul geduld en bystand tydens die verkeersontwrigtings weens die sneeu bedank en motoriste gemaan om uiters versigtig te bly, ’n behoorlike volgafstand te handhaaf, met hul ligte aan te ry en nie te vinnig te ry nie.

- Die Beeld