SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

22 July 2011

Klein-Brakrivier inwoners dien miljoene rande se eis in

MOSSELBAAI NUUS - Die skadevergoeding wat 19 inwoners van Riverside naby Klein-Brakrivier eis, beloop oor die R16 miljoen. Dit is vir vloedskade van drie jaar gelede.

Intussen, het desperate inwoners, 'n dagvaardiging op agt bekende instansies in Suid-Afrika ingestel, wat eis om die pype wat dwars en laag oor die rivierbed loop, te verskuif.

Die inwoners is van mening dat hierdie pype die afloop van die rivier belemmer en 'n opbouing van ondermeer boomstompe en rommel veroorsaak. Dit keer volgens hulle die water om deur te vloei en opgedamde water oorstroom dan hul eiendomme. Daar is reeds twee dagvaardigings op die partye beteken en 'n derde dagvaardiging vir skadevergoeding van die mees onlangse vloed, is in proses.

Van die instansies wie gedagvaar is, sluit in die Mosselbaaise Munisipaliteit, die Minister van Openbare Werke, die Nasionale Minister van Vervoer, die Suid-Afrikaanse Regering, PetroSA en die Suid-Afrikaanse Padagentskap.

Melissa Hills van die Advertiser berig dat die munisipaliteit tydens ‘n onlangse berig oor die vloedskade gesê het dat riviere in munisipale gebied, val nie onder die munisipaliteite nie. Hulle kan dus nie die riviere oopmaak of skoonmaak nie. Die munisipaliteit het egter aangebied om uit welwillendheid dit in oorweging te neem om die lap riete teenaan Powertown te verwyder, asook 'n bykomende pyp onder die laagwaterbrug tussen Powertown en die Klein-Brakrivier Tennisbane.

Die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr Harry Hill het aan die Advertiser bevestig dit is nog nie gedoen nie. "Ons kan nie net in gaan en riete uitkap nie. Ons moet eers met die nodige natuurorganisasies vergader".

Volgens die munisipaliteit is die oorstromings in die gebied veroorsaak deur buitengewone swaar reën oor 'n kort tydperk, en nie weens obstruksies nie.

Volgens die regsverteenwoordiger van die eisers is die saak tans op die waglys by die Hooggeregshof en kan dit tot 18 maande neem om 'n hofdatum te kry.

ARTIKEL: LOUISE POSTHUMA, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS.